Ná ’n op-die-nippertjie-gesprek by die vergadering van Hoëveld Sinode het kerkleiers op Dinsdag 27 Oktober te midde van diep teologiese verskille opnuut probeer om versoening met die Ring van Standerton te bewerkstellig.
“Ek het bietjie met vriende van my hier by die sinode om ’n tafel gesit en ons het gesels,” het ds Evert Bergh tydens ’n bespreking van die Verslag van die Sinodale Regskommissie aan die sowat 170 sinodegangers by Weesgerus buite Modimolle gesê.
Volgens hom het hulle mekaar met die vooraf-gesprek in die oë gekyk en “sommer uit die hart uit gepraat”. Die uiteinde was ’n aangepaste sinodale besluit wat deur die afgevaardigdes goedgekeur is. Dit bepaal onder meer dat die Ring van Standerton die “omvang en tydsrame” moet vasstel van verdere ondersoek wat hulle moet uitvoer oor een van die gemeentes in die Ring se besluit om “alle bande met die NG Kerk te verbreek,” luidens ’n sinodale verslag. Bergh is die voorsitter van die Ring van Standerton en leraar by Bethal-Oos. Hy en ds Wihahn de Beer is tans die enigste voltydse leraars in die ring, aldus Bergh.

“Ek is nie helemal seker dat die sinode besef hoe besonder hierdie moment is nie,” het ds Hannes Windell, die uittredende skriba van die sinode oor die poging tot versoening gesê. “Ek sou graag dat ons dankie sê vir die twee broers (die verteenwoordigers van die Ring van Standerton) wat hier is, maar ook vir Tom (Smith, die uittredende moderator van die sinode) en Jeannine Stoffberg, die voorsitter van die Sinodale Regskommissie.”

Bergh was nugter ná jare se kerklike konflik: “’n Groot deel van hierdie amendament (die aanpassing op die aanbeveling deur die Sinodale Regskommissie) is ’n stuk vertroue wat ons eintlik in mekaar gestel het ten opsigte van die pad vorentoe en daar is eintlik geen waarborge nie. Dis baie oop. Maar ons het ten minste mekaar,” meen Bergh.

Hy het aan die vergadering uitgespel wat die uitdaging vir hom en die skriba van dié “behoudende” Ring is. “Dit is vir ons regtig baie moeilik in die sin dat die saak waaroor dit gaan nie ’n gewone saak is nie. Die rede hoekom Charl Cilliers Gemeente gedoen het wat hulle gedoen het, was omdat hulle by die Belydenisskrifte en by die Woord staan op ’n baie spesifieke wyse en dat dit hulle belewenis was dat daar bepaalde besluite geneem is waarmee hulle nie kon saamgaan nie en dat dit hulle tot by die punt gebring het van uittrede (uit die kerkverband). En dat ons eintlik dieselfde standpunt deel. Ons benader dit dalk nie dieselfde nie en ons glo ons wil graag binne die kerk bly en van binne die saak hanteer … in liefde soos wat dit hier op die sinode gebeur en waar daar vir ons ook ’n plek is.”

Die onderliggende verdeeldheid, wat ook ander gemeentes en ringe raak, spruit uit die besluit van die Algemene Sinode in 2019 en 2023 rondom selfdegeslagverbintenisse. Afgevaardigdes by die Algemene Sinode het in 2023 bevestig dat “ons voortgesette nadenke, gesprek en besluitneming oor menslike seksualiteit en selfdegeslagverbintenisse, ten diepste voortvloei uit ons belydenis oor die Skrif as Woord van God.” Sommige beswaardes glo dat respek vir uiteenlopende Skrifbeskouings swaarder weeg as die Skrif self en dit is die bron van die druk op kerkverband.
“Die vrae rondom kerkverband het die grootste deel van die Dagbestuur se aandag gevra. Ons het deurgaans probeer om eerder te luister as om te veroordeel, en om die deur oop te hou,” skryf dr Tom Smith in die Verslag van die Sinodale Dienskommissie (SDK) vir die termyn Oktober 2022 – Oktober 2026.
Dit gaan in die Ring van Standerton boonop nie net oor geloofsverskille nie, maar ook oor ’n kerkordelike warm patat. “Nadat NG Gemeente Charl Cilliers gedurende 2025 aangedui het dat die gemeente alle bande met die NG Kerk verbreek, het die Regskommissie die kerkordelike en gemeenregtelike implikasies daarvan ondersoek,” luidens die verslag wat vandeesweek by die sinode gedien het. Dit word aangevoer dat daar ten tyde van die stemming 176 belydende lidmate op die gemeentelys was. Van hierdie lidmate het 160 ten gunste van die verbreking van alle bande met die NG Kerk gestem, een lidmaat het daarteen gestem en 15 lidmate het nie gestem nie, luidens die verslag.
Wat die Ring van Standerton nou verder sal moet ondersoek hou verband met die geldigheid en gevolge van die besluite wat geneem is; die formulering van die stembrief en die inligting wat vooraf aan lidmate beskikbaar gestel is; die individuele lidmaatskapstatus van die gemeentelede; die voortbestaan, samestelling en beheer van die oorspronklike gemeente as regspersoon; die eienaarskap, beheer en moontlike oordrag van die gemeente se roerende en onroerende bates; en die gebruik van die naam, administratiewe identiteit, bankrekeninge en ander registrasies van die oorspronklike NG gemeente, lees ’n mens in die verslag.
Die amendament wat vandeesweek goedgekeur is, gaan veral oor die tydlyn wat gekoppel is aan die verdere ondersoek, het ds Stoffberg gesê in haar hantering van die uurlange gesprek by die Hoëveld Sinodesitting. “Julle kan hoor dis groot werk. Die regskommissie se uitgangspunt is dat die proses by die Ring begin.” Stoffberg het later aan Kerkbode gesê: “Kerkverband bly vir ons belangrik. As die groot gebod van liefde nie in die kerkreg uitgeleef word nie, mis ons die punt. Ons het dit hier reggekry. Ons kies om die pad steeds saam te loop.”
Bergh het ook met afgevaardigdes gedeel hoe die Bybelboek Obadja tot hom spreek in hierdie dae. “Ek sou ontrou wees aan die Here as ek nie dit wat Hy op my hart gelê het, oordra nie,” het hy gesê en verskeie teksgedeeltes aangehaal, waaronder ’n vers wat lui: Jy moes nie op die ontsnaproetes gaan staan het om (sy) vlugtelinge uit te roei nie.
Bergh het afgesluit met die versoek aan afgevaardigdes … “Laat ons asseblief van Charl Cilliers (gemeente) nie ’n voorbeeld maak van kerkorde as stok nie, kom ons maak van Charl Cilliers ’n voorbeeld van hoe dit is om te wandel met die Here in geloof saam met mekaar.”
