Tutela het sowat 61 181 mense gedurende die verslagjaar bereik, luidens ‘n verslag wat by die onlangse sitting van Hoëveld Sinode gedien het.
Dié organisasie, wat uit die NG Kerk gebore is, staan egter weens die vermindering van NPO-subsidies deur die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling voor ’n belangrike oorgang.
Hulle “omkeerstrategie” behels pogings om groter langtermyn-onafhanklikheid van staatsbefondsing te ontwikkel.
Trienie Drotschie, die Hoof-uitvoerende beampte, verduidelik kortliks aan Kerkbode dat ‘n nuwe klem op “sosiale innovasie” die geleentheid skep vir lidmate en vrywilligers met kundigheid in daardie veld om betrokke te raak en Tutela te help met die ontwikkeling van volhoubare inkomstegeleenthede.
Tutela se diensstruktuur sluit die provinsiale kantoor, 11 Gesinsorg kantore, twee Kinder en Jeugsorgsentrums en sewe fasiliteite vir ouer persone in. Tutela is by 41 gemeentes en 17 skole aktief betrokke met professionele maatskaplike dienste, luidens ‘n sinodale verslag.
