Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.
In Advent sou ’n mens kon vra of die Jesus in die krip werklik belangrik is. Is die kruis nie genoeg vir ons versoening met God nie? Kon Jesus nie met sy eerste koms gekom het soos met sy tweede nie, op ’n wolk sodat elke oog Hom kon sien, eerder as in ’n krip sonder koördinate?
Nie as ’n volwasse man soos met sy doop nie, maar soos Johannes Hom op Patmos gesien het: met oë soos ’n vuurvlam en ’n stem soos die gedruis van baie waters.
Sou dit nie almal tot geloof gedwing het nie? Sou dit nie ’n beter weg gewees het as Maria se skoot en Josef se werkswinkel nie? Die Nuwe Testament getuig van die teendeel.
Toe Johannes die verheerlikte Christus sien, het hy soos ’n dooie voor sy voete neergeval (Openbaring 1:17). Paulus was na sy visioen drie dae lank blind. ’n Christus wat net in heerlikheid kom, sou God nie nader gebring het nie, maar eerder die afstand tussen ons en Hom vergroot het. Mense sou op hulle gesig lê eerder as om saam met Hom aan tafel te sit. Geen siek vrou sou die soom van sy kleed aanraak nie. Geen kinders sou op sy skoot klim nie. Daar is ook ’n dieper teologiese probleem. As Jesus nie ons menswees volledig aangeneem het deur sy geboorte, kinderjare, honger, moegheid, versoeking en sterwe nie, sou dié dele van ons lewe onaangeraak deur Hom gebly het. Hebreërs 2:17 sê Hy moes in elke opsig aan ons, sy familie, gelyk word om ’n barmhartige Hoëpriester te wees.
’n Glorieryke verskyning sou ons verwonderd gelaat het, maar Hy sou nie ons broer kon wees nie (Hebreërs 2:11). Die Christus aan die regterhand van God het egter sowel die krip as die kruis deurgemaak. Sy verheerlikte liggaam dra steeds die merke van die spykers. Hy is juis verheerlik vanweë sy lotsverbondenheid met ons menswees.
Daarom is Advent en Kersfees nie bloot ’n sentimentele aanloop tot die eintlike evangelie van sy kruisiging en opstanding nie. Dit ís die evangelie. Die Seun van God het nie bloot uit die hemel gebulder nie. Of gekom as ’n verblindende lig nie. Hy het na ons gekom as ’n kind wat Maria kon vashou en voed. Danksy sy krip en kruis kan Hy ons vandag as ons broer en Hoëpriester vashou.
Prof Marius Nel doseer Nuwe Testament aan die Universiteit Stellenbosch en is die assessor van die Wes-Kaapse Sinode.
