Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

WEITZ BOTES

12 September 1925 – 6 Julie 2017


Ds Weitz Lene Frederick Botes is op 12 September 1925 gebore te Mlanda in Malawi. Hy stam uit ’n geslag predikante wat diep spore in Suid-Afrika trap. Dit begin in 1744 toe Wietse Botes vanaf Batavia na Nederland reis en in Tafelbaai vertoef. Hy besluit om in die Kaap te bly en aanvaar ’n betrekking as onderwyser, voorsanger en sieke­trooster in die kerkdorpie Malmesbury in die Swartland. Hier help vestig hy die gemeente en onderwys tot met sy dood in 1785. Sy Botes-kleinseun vestig hom in die tyd van die Groot Trek te Winburg waar hy op die kerkraad dien tot in 1877 met sy dood. ’n Volgende geslag, David Hermanus Botes (1853-1924), dien op die kerkraad van Winburg en trou met Lenie Rossouw. Volgens oorlewering lewer die Rossouw- en Botes-geslag ongeveer 15 predikante vir die NG Kerk.

Weitz LF Botes se vader is ds Weitz Botes (1880-1928), ’n sendeling in Malawi wat vroeg weens malaria sterf. Sy moeder is Esther Rossouw, maat­skaplike werker en onderwyseres. Hy het tydens die Anglo-Boereoorlog op St Helena as krygsgevangene, onder leiding van ds Affie Louw, tot beke­ring gekom en die roeping ontvang om predikant te word. Twee van sy seuns word predikante, ds Weitz Botes en ds Dawie Botes. ’n Kleinseun sit die kerklike tradisie voort en volg in hulle voetspore. Hy is dr Dawie Botes, gerespekteerde kerkman en leraar van die NG Gemeente Welkom-Wes.

Weitz Botes matrikuleer in 1944 aan die Hoërskool Winburg. Hy behaal die BA-graad aan die UKOVS in Bloemfontein en gee ’n paar jaar onderwys. Die roeping om predikant te word laat loop sy pad in 1955 na Stellenbosch waar hy student word aan die Teologiese Seminarium te Stellenbosch. Hier word hy aan die einde van 1958 as proponent gelegitimeer. Op Stellenbosch dien hy op die studenteraad, saam met AC Loubser, later bekende leraar in die NG Kerk. Weitz is in Matieland redakteur van die Stellenbosse Student, die universiteit se Joolblad en Polumnia aan die kweekskool op Stellenbosch. Weitz trou op 31 Desember 1957 met mej Betta Bornman van Verkeerdevlei. Sy is ’n gekwalifiseerde onderwyseres en sterf in 2016. Uit hulle huwelik is drie kinders gebore: Weitz, Grace en Esther.

Prop WLF Botes se pad loop na die Vrystaatse Goudveld, waar hy op 30 Mei 1959 met handoplegging in die NG Gemeente Reitzpark in Welkom bevestig word. Op 7 Oktober 1961 word hy leraar van die NG Gemeente Balfour op die Transvaalse Hoëveld en hy word op 21 Augustus 1964 leraar in Laudium, waar hy onder die Indiërs die Woord bedien. Op 18 Julie 1966 keer hy terug na die Vrystaat as leraar van die NG Gemeente Kroonstad-Wes. Die Here stuur hom na die Waterberge in Transvaal, waar hy op 16 Januarie 1971 leraar word van die NG Gemeente Nylstroom-Oos.

Op 24 Januarie 1984 word hy leraar van die NG Gemeente Bedelia in Welkom, ’n geestelike inspuiting vir die mense in die Goudveld. In 1984 loop sy pad na die NG Gemeente Parys-Suid, waar hy die Woord met oorgawe bedien tot met sy emeritaat in 1988. Hy en sy vrou bly woon in Parys. Ds Weitz Botes sit sy liefdeswerk voort by die sendingorganisasie Geopende Deure. Hy maak kennis met “Broer Andrew” en ander bekende leiers in die ondergrondse kerk agter die Yster- en Bamboesgordyn. Hy doen ook geestelike werk in Japan, Argentinië, Paraguay en België. Ds Weitz Botes wy sy verdere bediening aan kinderevangelisaie, waar hy 10 jaar lank die wêreld deurkruis en meer as 40 000 kinders bereik.

Ds Weitz Botes sterf op 6 Julie 2017 en ’n troosdiens word op 22 Julie 2017 in die NG Gemeente Parys gehou. Dit word waargeneem deur dr Dawie Botes (Vrede) en ds Adriaan van Tonder (Oudts­hoorn). Die begrafnisbrief vertel die verhaal van ds Weitz Botes wat diep spore in die NG Kerk getrap het. Hy word onthou as teoloog, student, leser, berader, gemeenteleier, sielesoeker, voorbidder, voorsanger, vertaler, skrywer, toerleier, kunstenaar, vriend en familiemens. Wat ’n talentvolle begenadigde! – Dr Gerdrie van der Merwe VDM


Hierdie artikel het oorspronklik in die Jaarboek van die NG Kerke 2018 verskyn.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top