Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Japie Cronje

31 Mei 1928 – 17 Maart 2017


Ds Jacob Christoffel Cronje is gebore op 31 Mei 1928 te Albertinia in die Suid-Kaapland. Sy ouers is Jacob Christoffel Cronje en sy moeder Cornelia Maria Wiehman. Sy vader is ’n boer wat naby die grond leef en Japie begin in 1936 met sy skoolopleiding op Keurfontein in die distrik Albertinia. In 1943 word hy leerling aan die Hoërskool Albertinia waar hy in 1947 matrikuleer. Hy voel geroepe om predikant te word en vertrek na die Universiteit Stellenbosch waar hy die BA-graad verwerf en in 1950 toegang verkry tot die Teologiese Seminarium in die Eikestad. Hier beleef hy vier geseënde jare en word aan die einde van 1953 as proponent gelegitimeer.

Dit is nie bekend wat prop JC Cronje na sy legitimasie gedoen het nie, maar hy word eers twee jaar later op 9 Februarie 1955 met handoplegging ontvang en bevestig in die NG Gemeente Marydale, ’n boeregemeenskap in die dorre landskap naby die Oranjerivier. Onder sy leiding word ’n nuwe kerkgebou opgerig te Marydale, ’n plegtige oomblik vir hierdie besonderse gemeente. Hy trou op 5 Februarie 1955 met mej Johanna Francina Smalberger en uit die huwelik is vier kinders gebore. Op 19 November 1960 word hy leraar van die NG Gemeente Brandvlei, ’n lieflike gemeenskap in die wye Groot-Karoo.

Op 9 November 1965 word hy leraar van die NG Gemeente Simon van der Stel te Nababeep, ’n myngemeenskap naby Springbok in Namakwaland. Na vyf jaar kom ’n beroep na die NG Gemeente Keimoes, waar hy op 11 Julie 1970 sy plek inneem in die plaasgemeente naby die Oranjerivier op die grootpad na Upington. Tydens sy bediening te Keimoes word ’n groot en doelmatige kerksaal ingewy, tot vandag toe ’n sieraad op die dorp. Tot op dié stadium bedien ds Japie elke gemeente vyf jaar lank, tot hy op 4 April 1975 leraar word van die NG Gemeente Brand­wacht naby Mosselbaai.

In hierdie plaasgemeenskap met sy besonderse mense werk ds Japie Cronje dertien jaar lank tot hy op 4 April 1975 sy emeritaat aanvaar op die ouderdom van 60 jaar. Hierna woon hy en sy vrou op Middelburg en later te Albertinia, waar hulle geliefde inwoners is. Na sy aftrede voel hy aangetrokke tot die Afrikaanse Protestantse Kerk, waar hy in vakante gemeentes preek waar daar nie vaste leraars is nie. Ds Japie Cronje sterf op 17 Maart 2017 en sy vrou ’n paar maande later op 19 September 2017.


Hierdie artikel het oorspronklik in die Jaarboek van die NG Kerke 2020 verskyn.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top