Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

JAPIE DU PLESSIS

16 Oktober 1932 – 12 Oktober 2019


Ds Jacob van Wyk du Plessis is op 16 Ok­tober 1932 naby Oudtshoorn in die Klein-Karoo gebore, die jongste van twaalf kinders. Japie se vader sterf drie maande na sy geboorte en sy moeder Beatrice maak die gesin met liefde groot in die weë van die Here. Min het sy geweet dat haar jongste kind, deur God se genade, bestem is om eendag as kerkleier en sendingreus diep spore te trap in God se koninkryk, hier in Suid-Afrika en oor die wêreld heen. Die saambindende omgee, opofferings en onderlinge liefde tussen gesinslede, gee ’n besondere inhoud aan Japie se menswees.

Japie begin sy skoolopleiding aan die Laerskool Hazenjacht naby Oudts­hoorn en voltooi sy laerskooljare in die Paarl. In 1952 word hy leerling aan die Hoër Jongenskool in die Paarl en verlaat in standerd 7 die skool om te gaan werk op plase in die distrik Paarl. Hy keer op 21-jarige leeftyd terug na die skoolbanke by Boishaai en matrikuleer in 1955. Hy voel geroepe om sendeling te word en verwerf die BA-graad en word in 1957 toegelaat tot die Sendinginstituut op Wellington, waar studente “donkies” genoem word, ’n erenaam wat soet klink op die oor in koninkryksdiens. Die opleiding het ’n ander invalshoek as op Stellenbosch, totaal sendinggerig, wat ’n geestelike diepgang en totale oorgawe bring in die lewe van studente te Wellington. In 1961 besluit die Kaapse Kerk om volle predikantstatus aan afgestudeerdes van die Sendinginstituut te Wellington te gee. Prop Japie du Plessis word einde 1961 as proponent gelegitimeer, ’n vasberade 30-jarige jongman wat met oorgawe vir die Here werk en leef.

Na sy legitimasie preek prop Japie du Plessis een Sondagaand in Beaufort-Wes. Na die diens vra hy die koster wie die oom en tannie is wat met die twee dogters in die kerk gesit het. Hy vertel dat dit oom Martin Grant en sy dogters is, maar dat Moira Grant aan die landdros verloof is. Die volgende aand gaan kuier hy by die Grants en vra Moira om met hom te trou. Sy willig in, breek die verlowing en Japie trou op 30 Desember 1961 met mej Moira Grant van Beaufort-Wes. Dit bly tot vandag toe ’n Godsbeskikking, want sy is ’n lewensmaat en in eie reg ’n formidabele vrou, die stille krag in sy lewe. Sy deel van die begin af haar man se roeping, iemand vir wie die kerk ’n monument moet oprig.

Tot die einde toe was sy hart en siel deel van haar man se lewe. Sy het saamgery, saamgewerk en duisende telefoonoproepe beantwoord. Saam het hulle hand aan hand in die koninkryk van die Here gewerk, saam drome ge­droom wat ’n werklikheid geword het in Suid-Afrika en tot in Sri Lanka. Hier is twee spanmaats in die Here se werk, wat weerklank en ’n beroering gebring het in die hemel. Uit hulle huwelik is vier kinders gebore: dr Grant, leraar op Schweizer-Reneke, Lizanne, boervrou op Delareyville, ’n tweeling, Liezel en Joey, wat onderwys gee in Boksburg.

Die naweek van 2 Maart 1962 word prop Japie du Plessis met handoplegging bevestig in die NG Sendingkerk Oudtshoorn-Noord, wat Schoemans­hoek, die Kango en Matjiesrivier insluit. Op 23 Februarie 1963 word hy sendeling te Kraaifontein in die Kaapse Skiereiland, ’n unieke arbeidsveld. ’n Roepstem kom na die Swartland, waar hy op 11 September 1964 sendeling word te Koringberg, waar hy nie net ’n prater is nie, maar ook ’n doener. ’n Roepstem kom in 1968 na die NG Moederkerk op Keetmanshoop, waar hy met sy vlymskerp brein, situasies ontlont en uitmunt as aktuarius van die NG Kerk in Suidwes-Afrika.

Op 29 April 1972 word ds Japie du Plessis leraar van die NG Gemeente Delareyville-Oos, waar hy 22 jaar lank die gemeente bedien tot op 30 November 1994. Dekades lank is ds Japie die kerklike masjienkamer van herderlike sorg en geestelike groei op die Wes-Transvaalse platteland. In die Sinode van Wes-Transvaal is hy skriba, twee keer assessor en twee keer moderator. Hy beywer hom vir wêreldsending, veral in Oosterse lande soos Sri Lanka, Indië en China. Sy rol as stigterslid van die Christelike Lektuurfonds en Biblia Suid-Afrika is enorm, dit is wenakkers vir Jesus se Blye Evangelie. Dr Pieter Bingle skryf dat ds Japie du Plessis die geestelike vader en pastorale begeleier was van menige sendeling oor die wêreld.

Hy verwerf die erenaam, “Leeu van die Wes-Transvaalse Sinode”, wat sy byna ongelooflike lewenskrag beskryf. Hy besit ’n meesterlike vermoë om leiding te gee tydens kerklike vergade­rings en met sy ingebore talent en haastige geaardheid, kon hy gapings, foute en flaters blitsvinnig sien en hanteer. Hy kon as voorsitter vinnig en skerp na die kern van ’n saak deurdring en in belang van die kerk en koninkryk optree. Ds Japie du Plessis was in 1957 een van die stigters van die Christelike Lektuurfonds, destyds in ’n koshuiskamer in Huis Samuel op Wellington. Hy was 21 jaar lank lid en ook lank voorsitter van die fonds. Hy speel ook ’n vername rol in Biblia Suid-Afrika, waar die groot oseane van die wêreld, wenakkers word vir die evangelie van Jesus Christus.

Die lewensbeeld van ds Japie du Plessis is so omvangryk, dat ons nie in ’n kort huldeblyk reg kan laat geskied aan sy lewe nie. Die geliefde ds Piet de Wet skryf: “Om oor Jacob van Wyk du Plessis te skryf, is om te probeer om die sonsondergang in die Karoo, in een sin saam te vat.” Hy bly ’n kerklike ikoon, ’n eietydse legende en ’n juweel in die NG Kerk. Hy is die erenaam “donkie” werd, want tot die einde toe het Japie du Plessis die Here se boodskap wêreldwyd uitgedra.

Met die afsterwe van ds Japie du Plessis verloor die NG Kerk een van sy mees geliefde leraars. Tot met sy dood op Saterdag 12 Oktober 2019, bly oom Japie ’n vergaderingmens, want hy was ’n afgevaardigde van Sinode Goudland na die Algemene Sinode 2019 in Benoni.

Na die afsterwe van ds Japie du Plessis, word ’n gedenkdiens op Vrydag 18 Oktober 2019 in die NG Kerk Delareyville gehou, die laaste groet aan ’n gewaardeerde strydros en geliefde van God. Ons groet Jacob van Wyk du Plessis, ’n ware BTW, in ons taal be­sondere toegevoegde waarde in die Here se koninkryk.


Hierdie artikel het oorspronklik in die Jaarboek van die NG Kerke 2020 verskyn.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top