Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Melktert word ’n speelse simbool

Melktert, daardie staatmaker wat al menige kerkgebou en kerksaal help betaal het, het nou ’n nuwe baadjie gekry. Op speelse manier het dit ’n simbool geword van lewe en van die evangelie as deel van die protes teen die buitengewone Algemene Sinode se besluite oor verhoudings tussen mense van dieselfde geslag.

Dit het alles begin toe ds Nico van Rensburg van Sinode Goudland op die bui­ten­gewone Algemene Sinode die grappie vertel het van die ou oom wat op sterwe lê. Skielik kom die oom orent. Hy ruik melktert en wil ’n stukkie hê. Sy dogter hardloop kombuis toe waar haar ma melktert bak. “Ma, Ma,” sê sy, “Pa sê hy is lus vir ’n stuk­kie melktert.” Waarop die tannie vies antwoord: “Ag, sê vir hom hy moenie stuitig wees nie. Dis vir die begrafnis.”

Ds Pieter Visser van Wierdapark sê na die sinode het hy met dié grappie in gedagte gedink die kerk kan lewe skep of aandadig wees aan die dood.

Toe het hy besluit om 40 dae opeenvolgens ’n melktertresep op facebook te plaas.

Dit is ’n protes teen die besluite van die buitengewone Algemene Sinode. Dis ’n aanklag dat die kerk ’n oomblik gemis het. Dis ’n manier om te sê die kerk moet lewe bring.

Visser se melktertprotes het aangesteek en meer mense het begin melktert­resepte plaas. Daar is tradisionele melkterte en korslose melkterte, melktert vir diabete, banting-melktert, glutenvrye melktert, yskas-melktert en peanut brittle melktert. Daar is resepte vir suurlemoenmelktert, mikrogolfmelktert, melktert met kondensmelk, melktertkolwyntjies en selfs melktert-shooters en melktert-jaffels.

Op plekke het mense melktertpartytjies gehou en spontaan begin om melkterte kerk toe te bring.

Ds Tielman Roux van Hendrina vertel dat hulle gemeente, waarin daar ’n wye spektrum standpunte oor selfdegslagverhoudings is, hulle eeufees met ’n nagmaalsdiens afgesluit het. Toe daar na die tyd koffie en tee bedien is, was daar van die lidmate wat melktert gebring het: “Om te wys by ons is almal welkom”.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top