Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Dr André Bartlett

Bartlett is een van die eeu se Verskilmakers

Dr André Bartlett, hoof van Excelsus, die NG Kerk se sentrum vir bedieningsontwikkeling aan die Universiteit van Pretoria, is een van 10 Verskilma­kers uit die eerste eeu van die Fakulteit Teologie se geskie­denis.

Die fakulteit vier vanjaar sy eeufees, en met die afskop van die vieringe is Bartlett en nege ander as Verskilma­kers uitgesonder. Hy word vereer vir sy teologiese ondersoek na die regte van LBGT-mense in die NG Kerk. Lui­dens die erkenning is hy “bekend vir sy dapper openbare getuienis en het hy ’n ‘poort’ geword vir die verkenning van nuwe idees en moontlikhede”.

Die ander Verskilmakers is:

  • Prof Johan Heyns wat die NG Kerk weggelei het van apartheid af;
  • Prof Maake Masango, die fakulteit se eerste swart akademikus in ’n permanente pos, vir sy stryd vir benadeelde mense;
  • Prof Ben Marais, een van die vroeë profete teen apartheid in die NG Kerk;
  • Prof Albert Geyser wat apartheid op teologiese gronde teengestaan het;
  • Prof Andries van Aarde wat in sy Jesus-navorsing gefokus het op die besorgdheid oor die armes, uitgeskuifdes en verdruktes;
  • Prof Berend Gemser, kenner van Semitiese tale wat hom beywer het vir ’n teologie vry van fundamentalisme en liberale modernisme;
  • Prof Chris de Beer wat as rektor verantwoordelik was vir die vereniging van die verskillende afdelings van die fakulteit;
  • Ds Louis Brandt wat in 1927 die regeringsaanslag op die fakulteit teengestaan het, onder meer deur dit as ’n veelkerklike fakulteit voor te hou; en
  • Prof Adrianus van Selms wat op grond van sy akademiese werk en toewyding tot Jesus verbind was tot radikale inklusiwiteit, ook in die Hervormde Kerk.

Professor Johan Buitendag, dekaan, het die Verskilmakers mense genoem wat in die gees van Ubuntu dit “vir ons vandag moontlik maak om te wees, omdat hulle in die verlede was”.

Saam met die akademiese wydingsdiens waarmee die eeufees afgeskop het, is daar ook oop hekke voor die gebou van die fakulteit onthul. Die swaar houthekke was deel van die oorspronklike hek van die Universiteit.

Teen die agtergrond van die donker deel van die fakulteit se geskiedenis, die teologiese begronding van apartheid en die uitsluiting van mense op grond van onder meer ras en geslag, is dié hekke nou in ’n oop posisie vasgemaak, om te wys dat mense nooit weer so uitgesluit moet word nie.

Goeie nuus met die afskop van die feesjaar is dat die Universiteit van Pretoria deur die QS World University Rankings ingesluit is onder die beste 100 universiteite ter wêreld vir sy teologie.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top