Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Afgevaardigdes het met ’n meerderheidstem goedgekeur dat die kerk se geldelike ondersteuning aan Caritas Gemeenskapfokus hersien word. Die sinodale kommissie vir diens en getuienis (SKDG) is hiermee getaak. Foto's: Heléne Meissenheimer

NG Kerk Noord-Kaapland | Dag 3: Sinode slaan nuwe koers in met samewerking tussen gemeentes en Caritas

“As mense by ’n betekenisvolle konsensus uitkom, moet ’n mens dit raaksien, maar ons moet dit ook nie romantiseer nie want dit het met pyn en opoffering gepaard gegaan.” Só het dr Nioma Venter, Algemene Sekretaris van die NG Kerk, laatoggend opgemerk op die derde dag van die sinodesitting van die NG Kerk in Noord-Kaapland.

Sy het vroeër vanjaar ’n mediasiegesprek gefasiliteer oor die geskille rondom Caritas Gemeenskapfokus.

Venter het met afgevaardigdes gepraat na die besluite wat die vergadering Woensdagoggend 14 Oktober gemaak het rondom die pad vorentoe met die maatskaplike hulporganisasie wat deur hierdie kerk begin is skaars 12 jaar gelede.

Die doel was om die kerk te help om die streek se uitdagings met armoede aan te spreek. Nou blyk dit daar is ’n sterk gevoel onder sommige dat hulle reken die organisasie moet met minder geldelike ondersteuning vanaf die kerk hulle werk doen. Al was daar ook gewaarsku so ’n besluit kan met die prys kom dat die kerk, soos een predikant dit gestel het, “’n stuk getuieniskrag kan verloor”. 

Lees ook: NG Kerk Noord-Kaapland | Dag 2: Jan Lubbe en gaste kom dink saam oor kerkwees en samewerking + Hoe gemaak met Caritas?

Die sinode het Woensdag ondermeer goedgekeur dat gemeentes wat steeds met Caritas Gemeenskapfokus wil saamwerk so kan doen, maar dié wat met ander maatskaplike vennote wil skakel, het ook nou ruimte om dit te kan doen.

 Die afgevaardigdes het ook met ’n meerderheidstem goedgekeur dat die kerk se geldelike ondersteuning aan Caritas Gemeenskapfokus hersien word. Die sinodale kommissie vir diens en getuienis (SKDG) is hiermee getaak. Dit sluit in dat die kerk se jaarlikse hulpbydrae (tans R2.2 miljoen) elke jaar met R500 000 verminder word. Gemeentes en ringe het wel die opsie om Caritas Gemeenskapfokuste betaal vir maatskaplike dienste. 

 Gemeentes word ook aangemoedig om vrywillige deurkollektes en donasies vir Caritas Gemeenskapfokus te gee.

 Die SKDG moet saam met Caritas Gemeenskapfokus ’n nuwe ooreenkoms opstel. Die sinode het 29 Februarie 2028 as sperdatum hiervoor gegee.

By navraag het Hopetown se predikant, Thabo Pienaar, wat in ’n bemiddelingsrol betrokke was, gesê: “Vir my is die grootste punt dat ons (die kerk en Caritas Gemeenskapfokus) mekaar nie los nie, maar dat ons ook vir gemeentes en ringe ruimte skep vir barmhartigheidswerk.”

Die sinode se voorsitter Tienie Swanepoel het die verskillende spanne wat tot laat die vorige aand aan die voorstelle gewerk het bedank. “Julle gee vir ons ’n duidelike raamwerk,” het hy gesê.

 By navraag het Hopetown se predikant, Thabo Pienaar, wat in ’n bemiddelingsrol betrokke was, gesê: “Vir my is die grootste punt dat ons (die kerk en Caritas Gemeenskapfokus) mekaar nie los nie, maar dat ons ook vir gemeentes en ringe ruimte skep vir barmhartigheidswerk.”

 Die streek het 83 gemeentes wat wyd verspreid lê maar die hulporganisasie het net takkantore op twee dorpe, Vryburg en Kimberley, met ’n kinder-en jeugsentrum ook op Barkley-Wes. Soos Pienaar verduidelik, beteken dit dat Caritas Gemeenskapfokus se maatskaplike werkers nie by al die gemeentes kan uitkom nie.

 Ds Leonie Pistorius het as ondervoorsitter ook ’n gebed gedoen en gevra “mag ons mekaar styf vashou op hierdie pad”.

Ds Christo Jonck (links) is bedank vir sy diens as Predikant in Sinodale Diens (PSD). Hy het ds De la Harpe Le Roux as sy opvolger verwelkom.

 Beroep van predikante ouer as 70

 Die amptelike aftree-ouderdom vir predikante van die NG Kerk is 65. Die Kerkorde bepaal dat hulle daarna op kontrakbasis net tot 70 in aktiewe bediening diens mag doen. Hulle mag daarna nie weer beroep of in vastekontrakposte aangestel word nie omdat hulle reeds ten volle afgetree is en pensioen ontvang. Die nood vir predikante, veral op afgeleë dorpe, is so groot dat streeksinodes soos hierdie, en ook KwaZulu-Natal, besluite geneem het wat gemeentes toelaat om, as omstandighede dit vereis, op korttermyn gebruik te mag maak van die dienste van predikante bo 70.

In Noord-Kaapland is sowat die helfte van die predikante ouer as 60 – elf is ouer as 70. Hierteenoor is net drie jonger as 30 en al drie is vroue. 

Hierdie statistieke in ’n verslag skets ’n prentjie.

 In ’n streek waar byna ’n derde van die gemeentes vakant is, help dit as hulle die opsie het om ook ouer predikante te mag beroep. Dit bied ’n “uitkoms” soos die verslag van die sinodale kerkordekommissie (SKOK) se verslag dit stel.

Tydens Noord-Kaapland se sinode van 2024 is ’n beskrywingspunt goedgekeur wat aanbeveel dat die Kerkorde gewysig word sodat leraars bo 65 in vaste termynposte beroep mag word. SKOK het dié beskrywingspunt na die Algemene Sinode Moderamen versend wat dit na die Algemene Taakspan Regte (ATR) verwys het.

Die terugvoer is dat besluite oor sulke wysigings aan die Kerkorde slegs tydens ‘n sitting van die Algemene Sinode geneem kan word. Die volgende sitting gebeur in 2027.

Ds Annatha Nel verduidelik dit is waarom hulle as sinodale kommissie die meerkant gekies het as metafoor. “Hulle leef met waaksaamheid en vreugde – netso roep die Gees ook die kerk om waaksaamheid, verwondering en vreugde te leef”.

 Wat ’n meerkat die kerk kan leer

 ’n Groot karton meerkat sit voor by die tafel waar die voorsitter en ondervoorsitter sit. Die agenda het ook ’n prent in met meerkatte wat lyk of hulle om ’n vuur Bybelstudie hou. Vandag het afgevaardigdes in ’n video gehoor meerkatte is familievas, waaksaam en mededeelsaam.

Ds Annatha Nel verduidelik dit is waarom hulle as sinodale kommissie hierdie diertjie so eie aan die Noord-Kaap gekies het as metafoor. “Hulle leef met waaksaamheid en vreugde – netso roep die Gees ook die kerk om waaksaamheid, verwondering en vreugde te leef”.

  •       Die sinodevergadering eindig Donderdag 15 Oktober 2026.
No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

1 thought on “NG Kerk Noord-Kaapland | Dag 3: Sinode slaan nuwe koers in met samewerking tussen gemeentes en Caritas”

  1. Ek dink daar moet dringend beplanning gedoen word vir die toekoms van die NG Kerk in die Noord Kaap (en vir KZN waar ek woon). Ek weet nie hoeveel predikante daar in die Noord Kaap in nie, maar as die helfte van hulle ouer as 60 is, stuur ons op ‘n ramp af oor minder as 10 jaar as daar nie NOU beplan word nie. En om slegs te praat sal nie deug nie. Prakties uitvoerbare planne wat binne die volgende 5 jaar al in werking gestel kan word is noodsaaklik.

Gesels saam

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Scroll to Top