Hoe lyk die roeping van die NG Kerk in Suid-Afrika onderweg na die toekoms? Dit is een van die belangrike vrae waaroor die Noordelike Sinode vandeesweek tydens ’n sitting by Weesgerus buite Modimolle besin, skryf Nioma Venter.
Met Droomdraers as vergadertema soek die sinode met onderskeiding na nuwe en getroue moontlikhede vir die kerk se roeping.
Dr Yolande Steenkamp, dekaan van die Fakulteit Teologie by Hugenote Kollege, en prof Johan van der Merwe, kerkhistorikus aan die Universiteit van Pretoria, (foto: onder) het op die tweede dag van die sinodesitting die afgevaardigdes in gesprek begelei. Die fokus was op die geskiedenis van die NG Kerk en die betekenis daarvan vir die kerk se toekoms.

“Die geskiedenis gee vir ons die gereedskap om sinvol te verbeel hoe die toekoms kan lyk,” verduidelik Van der Merwe. Hy beskryf die sessie as ’n onthougesprek wat die potensiaal het om te inspireer en nuwe verbeelding los te maak.
Wat en hoe onthou ons?
Steenkamp het die gesprek oor ‘onthou’ vanuit ’n teologiese perspektief ingelei. Die Bybel roep gelowiges op om God se dade te onthou en uit die verlede te leer. Tog wys die Bybel ook hoe maklik mense vergeet, en hoe herinneringe skeefgetrek kan word wanneer eiebelang die interpretasie van die geskiedenis beïnvloed.
’n Goeie illustrasie kom uit Esegiël 33:23-29 en Jesaja 51:1-5. In hierdie tekste word die Abraham-belofte van grond en ’n nageslag binne die konteks van die Babiloniese ballingskap geïnterpreteer. Die tekste bied verskillende perspektiewe op die aansprake van dié wat in die land agtergebly het en dié wat in ballingskap weggevoer is en op herstel gehoop het.
Die voorbeelde wys hoe dieselfde geloofstradisie gebruik kan word om verskillende aansprake te regverdig. Wanneer mense hulle eie groep as die regmatige erfgename van God se beloftes beskou, kan eiebelang maklik met geloofsoortuigings verweef raak.
“Hoe ons onthou, het ’n bepalende invloed op hoe ons onsself en ons wêreld verstaan,” beklemtoon Steenkamp.
Tog vertel die Bybel nie net die verhaal van mense se gebrekkige verstaan of verkeerde interpretasies nie. Die troos lê in God se trou en liefde, wat mense telkens terugroep. God se plan berus uiteindelik nie op ons vermoë om die verlede foutloos te interpreteer nie, maar op God wat handel en sy doel volbring.
Met hierdie teologiese vertrekpunt het Van der Merwe die swaaimetafoor gebruik waarvoor hy nou al bekend is: “Die momentum om vorentoe te swaai, word verkry deur terug te swaai.”
“Hoe beter ons ons verlede interpreteer, hoe verder neem dit ons onderweg na die toekoms,” verduidelik hy.
Van der Merwe neem die vergadering op ’n boeiende historiese reis deur die gebeure wat die NG Kerk help vorm het. Ná elke historiese fokus onderbreek hy die terugblik en nooi die afgevaardigdes om eerlik te besin oor die vraag: Wat hoor jy wat belangrik is om te onthou?
“Die Afrikaner en die NG Kerk, by name, was telkens in die geskiedenis in pioniersomstandighede,” sê Van der Merwe. Pioniersomstandighede verwys na die uitdagende en dikwels strawwe omstandighede waarin mense nuwe gemeenskappe vestig of baanbrekerswerk op onbekende terrein doen, dikwels sonder voldoende kennis of hulpbronne.

Van der Merwe belig verskeie historiese momente:
- Vestiging en kerkplanting: Van die vroeë Europese nedersettings in 1652 tot die Groot Trek vanaf 1835 het mense onder uitdagende omstandighede nuwe gemeenskappe gevestig. Hierdie geskiedenis van ontworteling en hervestiging het ook met kerkplanting saamgehang. Vandag trek lidmate steeds, ook binne Suid-Afrika. Dit skep nuwe moontlikhede vir evangelieverkondiging, maar laat ook vrae ontstaan oor die gevolge vir gemeentes en gemeenskappe wat agterbly.
- Geestelike herlewing: Die ontstaan van Pinksterbidure in 1861 en die Jeug-tot-Jeug-aksie van 1974 was belangrike bakens in die NG Kerk se geskiedenis. Sien ons nog sulke herlewings in die kerk? Van der Merwe beklemtoon dat herlewing God se werk is. Die kerk se taak is om ruimte te skep waarin mense God kan ontmoet.
- Oorlog en pastorale bediening: Die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) en die Grensoorlog (1966-1989) het diep spore in mense se lewe en gemeenskappe gelos. Tydens die Anglo-Boereoorlog het NG predikante ook mense in konsentrasiekampe en krygsgevangenekampe bedien, terwyl hulle self in aanhouding was.
- Armoede en maatskaplike sorg: Die Armblankevraagstuk van 1933-1935 was ’n belangrike stimulus vir die ontwikkeling van georganiseerde maatskaplike sorg.
- Die moeilike pad na versoening: Kerk en Samelewing (1986), die afstigting van die Afrikaanse Protestantse Kerk (1987), prof WD Jonker se belydenis by die Rustenburg-kerkeberaad (1990) en die Algemene Sinode van 1994 was belangrike keerpunte in die NG Kerk se geskiedenis. Dit was deel van ’n ingewikkelde en soms pynlike proses van belydenis, verandering en versoening.
- Die demokratiese oorgang van 1994: Die eerste demokratiese verkiesing op 27 April 1994 was ’n merkwaardige keerpunt in Suid-Afrika se geskiedenis. Van der Merwe se terugblik sluit ook die rol van kerkleiers in die voorafgaande versoeningsproses in. Die geskiedenis vra egter steeds dat die kerk krities nadink oor sy eie rol in die land se verlede en oor die betekenis van versoening vir die hede.
- Die COVID-19-pandemie van 2020: Die sluiting van kerkgeboue het gemeentes gedwing om nuwe maniere te vind om eredienste te hou en lidmate te versorg. Digitale eredienste het nuwe moontlikhede geskep, terwyl toenemende armoede en finansiële druk gemeentes voor verdere uitdagings gestel het.
Die NG Kerk se geskiedenis bevat verhale van geloof, opoffering, diens en vernuwing, maar ook van pyn, verdeeldheid en onreg. Om hierdie geskiedenis te onthou, beteken daarom meer as om belangrike datums en vorige suksesse te vier. Dit vra ook eerlikheid oor die kerk se eie rol, kritiese nadenke oor die verhale wat vertel word en ’n bereidheid om uit die verlede te leer.

Deur die afgevaardigdes telkens te vra wat vir hulle belangrik is om uit die geskiedenis te onthou, het Van der Merwe die terugblik in ’n gesprek oor die kerk se huidige roeping verander.
Hy sluit sy aanbieding af met die gedagte dat die geskiedenis genoeg stof tot nadenke en boustene bied om die toekoms met hoop aan te pak.
Teologiese opleiding, argivering en groeteboodskappe
Deur die loop van die dag is lede van die kuratorium van die vier Transvaalse sinodes, asook dosente van die Universiteit van Pretoria, aan die vergadering voorgestel. Sinodegangers is aangemoedig om enige vrae oor teologiese opleiding met hulle te bespreek.
Dr Diederick Basson, bestuurder van die Stellenbosch-argief, en me Colette de Wet het ook die vergadering bygewoon. Basson het ’n inset oor die argief se dienste gelewer.
Van die Noordelike Sinode se 33 taakspanne het drie geleentheid gekry om hulle werksaamhede toe te lig. Leraars wat as brugbedienaars opgelei is, is ook aan die vergadering voorgestel.
Net voor aandete het dr Elias Monhla, moderator van die Noordelike Sinode van die Verenigende Gereformeerde Kerk, ’n groeteboodskap gebring. Hy het ’n beroep gedoen dat ons twee kerke nie in die verlede vasgevang moet bly nie, maar saam moet soek na ’n toekoms wat in die belang van hulle kinders en God se koninkryk is.
Die dag is met ’n kuier en braaivleisvure op die groen grasperke van Weesgerus afgesluit.
Dr Nioma Venter is ’n afgevaardigde en algemene sekretaris van die NG Kerk.
