OM REG TE STEL – OOR REGVERDIGING ÉN GEREGTIGHEID
Deur Ernst Conradie
Bybel-Media, 2018
Regverdiging en geregtigheid is twee kern-Bybelse temas waarmee die Christelike kerk voortdurend moet worstel. Hierdie begrippe – en hul verhouding met mekaar – is veral relevant vir die NG Kerk. Ons kerk se sterk evangeliese geskiedenis, wat grotendeels gemaklik met die groot onreg van apartheid saamgegaan het, asook die huidige oproepe om restitusie en onteiening van grond, noodsaak ons om weer baie diep oor hierdie twee begrippe en hulle verband met mekaar na te dink.
Juis omdat hierdie temas so naby aan ons leefwêreld is en enige nadenke hieroor traumaties en persoonlik sal wees, bestaan die gevaar dat ons diepgaande teologiese ondersoek na hierdie kerntemas en hul onderlinge verband vermy.
In Om reg te stel lei Ernst Conradie die leser in ’n dieper ondersoek na beide die temas van regverdiging en geregtigheid. Die fokus val veral op die verhouding tussen hierdie twee temas. Die problematiek van beide begrippe en hul verband met mekaar word goed uitgelig en word ook met die praktyk in verband gebring.
Die tweede hoofstuk van die boek, wat op geregtigheid fokus, bied ’n goeie uiteensetting van die kompleksiteit van geregtigheid en die herstel van geregtigheid waar onreg geskied het. Hierdie hoofstuk bied waardevolle stof vir nadenke oor die Suid-Afrikaanse situasie en geregtigheid oor die algemeen.
Die ondersoek na geregtigheid sluit ook ’n ondersoek in na die vraag oor wat God se geregtigheid behels en tot watter mate geregtigheid in ons verhouding met God (vertikaal) en ons verhouding met mekaar (horisontaal) geld.
Die ondersoek na regverdiging in die volgende hoofstuk bevat eweneens ’n kritiese, maar baie beperkte ondersoek na die betekenis van regverdiging. Dit sluit ’n baie kort oorsig van die verskillende modelle van versoening in en maak ’n tentatiewe voorstel oor die betekenis van regverdiging in die lig van die verhouding met regverdigheid.
Hierdie boek spruit uit Conradie se gespreksdokumente wat vir Excelsus se 2017 Lentekonferensie voorberei is en is veral op leraars in gereformeerde gemeentes gerig. Die boek is derhalwe nie ’n handboek met ’n volledige oorsig en voorstelle oor geregtigheid en regverdiging nie, maar eerder ’n kort en kritiese ondersoek na die tema met ’n paar tentatiewe voorstelle wat gemaak word.
Hierdie boek sal nie noodwendig al die leser se vrae beantwoord nie, maar is eerder ’n uitnodiging aan die leser tot diepgaande teologiese en kritiese nadenke en studie oor die teorie en praktyk van geregtigheid en regverdiging.
▶ Adv Wimke Jurgens is tans ’n voltydse MDiv-student by die Universiteit Stellenbosch.
