Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Ds Nelis Janse van Rensburg bring ʼn groeteboodskap namens die NG Kerk aan die Algemene Sinode van die Verenigende Gereformeerde Kerk. Foto: Neels Jackson

Belhar bly die lakmoestoets vir eenheid

Die Belydenis van Belhar het die teologie in die NG Kerk reeds op  ʼn betekenisvolle manier verander.

So het ds Nelis Janse van Rensburg, voorsitter van die Algemene Sinodale Moderamen van die NG Kerk, in sy groeteboodskap aan die Algemene Sinode van die Verenigende Gereformeerde Kerk (VGK) in Benoni gesê.

Dié sinode vier vanjaar die aanvaarding van die Belydenis van Belhar dertig jaar gelede.

Janse van Rensburg het gesê hy is teleurgesteld daaroor dat die NG Kerk nie in 2015 die vereiste meerderhede kon kry wat dit sou moontlik maak om Belhar deel van die NG Kerk se belydenisgrondslag te maak nie.

Hy het egter daarop gewys dat die Algemene Sinode verlede jaar besluit het dat streeksinodes Belhar in hulle belydenisgrondslag sou kon opneem.

Daar is ʼn paar appèlle teen dié besluit, maar Janse van Rensburg, wat ook die Wes-Kaapse moderator is, het gesê in die Wes-Kaap sal hulle voortgaan om Belhar deel van hulle belydenisgrondslag te maak sodra die appèlle afgehandel is.

“Ons wil nie Belhar aanvaar nie, ons wil dit bely,” het Janse van Rensburg gesê.

Hy het ook aan die sinode gesê die NG Kerk sien uit daarna dat die VGK die voorgestelde tussenorde tussen die twee kerke aanvaar.

Die NG Kerk se Algemene Sinode het die tussenorde reeds aanvaar. As die VGK dit ook goedkeur, sal dit die weg baan dat gemeentes, ringe en streeksinodes wat gereed is daarvoor, kan verenig.

Janse van Rensburg het gesê alle eenheidstrukture wat so gevorm word, sal Belhar as grondslag hê.

Toe die VGK se Algemene Sinode later oor kerkeenheid gepraat het, het verskeie afgevaardigdes hulle hartseer en misnoeë daarmee laat bly dat die NG Kerk nie sover kon kom as om Belhar te aanvaar nie. Van hulle wou niks verder met die NG Kerk te doen hê nie.

Hulle was egter ʼn minderheid. Die sinode het besluit om steeds ʼn pad met die NG Kerk en Belhar te stap, maar het dit ook duidelik gestel dat hulle nie kans sien vir eenheid sonder Belhar of vir ʼn opsionele aanvaarding van Belhar nie.

Die VGK sien die aanvaarding van Belhar deur die NG Kerk steeds as die lakmoestoets vir die NG Kerk om een, nie-rassige kerk saam met die ander kerke van die NG Kerkfamilie te vorm.

Die VGK het ook gevra dat die NG Kerk sy Kerkorde-artikels oor die verandering van die kerk se belydenisgrondslag so verander dat dit eenheid moontlik maak. Prof Mary-Anne Plaatjies-van Huffel, uittredende moderator, het aan die sinode gesê die uitgebreide stemproses wat tans vereis word, maak eenheid onmoontlik.

Verder het die VGK se Algemene Sinode gevra dat die NG Kerk weerspanninge lidmate, gemeentes en ringe konfronteer met die evangeliese eis van kerkhereniging.

Die VGK het sterk standpunt ingeneem dat herstellende geregtigheid voortaan deel van die gesprekke oor kerkeenheid moet wees.

Die sinode het die besluit oor die voorgestelde tussenorde tot later in die vergadering uitgestel.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top