Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Dit is ’n goeie besluit, sê NG dosente

Teologiedosente van die NG Kerk aan die Universiteit van Pretoria bestempel die Algemene Sinode van 2015 se besluit oor verhoudinge tussen mense van dieselfde geslag as “ ‘n besonder goeie en verantwoordelike besluitnemingsmoment” op die NG Kerk se reis met die Bybel en die vertolking daarvan. Die elf dosente se volledige verklaring lui:

Hermeneutiese reis van NG Kerk

Ons, dosente verbonde aan die Fakulteit Teologie aan die Universiteit van Pretoria, bevestig ons dat ons teologie beoefen vanuit ‘n Bybels-reformatoriese perspektief. In ons teologie en Skrifverstaan hou ons rekening met die Midde-Oosterse konteks waarin die evangelie destyds ontstaan het en die Suid-Afrikaanse konteks waarin die evangelie vandag, meer as twintig eeue later, verkondig word. Verder verklaar ons ons verbondenheid aan die belydenisgrondslag van die NG Kerk. Met hierdie bevestiging as agtergrond maak ons enkele verdere opmerkinge maak oor wat ons noem: “Die hermeneutiese reis van die NG Kerk”.

Ons wil graag ons akademiese waardering teenoor die NG Kerk uitspreek vir hulle standpuntinname tydens die Algemene Sinode van Oktober 2015 oor selfdegeslagverhoudings. Ons is ook dankbaar oor die onlangse besluite wat ons mede-reformatoriese kollegas van die Nederduitsche Hervormde Kerk oor die saak van selfdegeslagverhoudings geneem het. Ter ondersteuning van die buitengewone Algemene Sinode in November 2016 sou ons graag die volgende wou stel.

As akademici wat verantwoordelik is vir die opleiding van studente vir onder andere die NG Kerk, is ons oortuig dat dit ‘n besonder goeie en verantwoordelike besluitnemingsmoment verteenwoordig op die hermeneutiese reis op grond van God se geopenbaarde Woord aan ons.  Dit is ‘n reis van die NG Kerk in Suid-Afrika oor die afgelope paar dekades wat ook die besondere onlangse hermeneutiese momente insluit van besluite soos die veroordeeling van apartheid as Skrifdwaling; die erkenning van die vrou in die amp en op hierdie tydstip, selfdegeslagverhoudings.

Om net vir een oomblik hierby te verwyl. Dit is dieselfde Kerk wat vroeër met oortuiging kon sê: Dit is wat God se wil is vir volkereverhoudinge in Suid-Afrika! Apartheid. En toe dapper genoeg was om uiteindelik op ‘n voortgaande hermeneutiese reis van kritiese selfondersoek te erken. Skuus, ons het dit baie verkeerd gelees. Dit is dieselfde Kerk wat vroeër gesê het: Maar die skrif stel dit duidelik dat die vrou nie in die amp moet staan nie. Weer kon sy op hierdie voortgaande hermeneutiese reis uiteindelik later met oorgawe bely: Dit mag! En watter rykdom het daarna deel geword van ons geloofsgemeenskappe!   

Dit is so: Hierdie twee voorafgaande beslissingsmomente wat as voorbeeld gebruik is, regverdig nog niks opsigself nie. Maar as ons self-krities kyk na hierdie nuwe moment op die hermeneutiese reis waarop die NG Kerk haar bevind, dan oordeel ons dat hierdie standpuntinname goed is.

Dit is ‘n standpuntinname oor selfdegeslagverhoudinges in verbondenheid aan die Bybel as Woord van God en die belydenisskrifte. Dit is ‘n standpuntinname oor selfdegeslagverhoudings wat opnuut getuienis aflê van die die getrouheid van die kerk aan haar tradisie, en die belydenisgrondslag van die wyse waarop sy haar hermeneutiese reis op grond van hierdie tradisie voortsit.

Juis dit word deur baie kerklike stemme as teenargument aangevoer om  hierdie besluit teen te staan of te verwerp: Dit is – volgens hulle – teen die Skrif as Woord van God en teen ons belydenisgrondslag en teen ons tradisie. Graag verwys ons na die besondere standpunt van Calvyn wat  na ons oordeel die NGK se hermeneutiese reis Skrifgetrou stuur en die aansluiting – in hierdie verband – by die Franse (1559) en Nederlandse Geloofsbelydenisse (1561).

In sy Institusie skryf Calvin dat ons God op twee besondere wyse kan leer ken. Aan alle mense as God se handewerk, het Hy ‘n sensus divinitatis (‘n “gewaarwording van die goddelike”) toevertrou. God het ast’ware op alle mense se harte iets van Homself ingegraveer. Dit dien as aansluitingspunt vir die mens se bewuswording van God.

Daarmee saam beklemtoon hy die belangrikheid van God se openbaring in die Skrif waardeur ons op ‘n besondere wyse en ten volle die reddende handelinge van God van nader leer ken in Jesus Christus. Alhoewel ook enkele ander belangrike kwalifiseringe deur Calvyn aangebring word, is die belangrike punt dat hy uiteindelik in sy beklemtoning van die twee bronne (Skrif en natuur) waardeur ons God se wil kan leer ken, ‘n besondere rol toeken aan die natuurwetenskappe van sy tyd (te wete astronomie en medisyne).

Hierdeur, voer hy aan, kan ons vanuit God se handewerk iets meer leer van goddelike wysheid in die skepping. Calvyn gaan selfs so ver as om aan te voer dat daar ten opsigte van onderskeidingsvermoë in hierdie opsig van die wil van God in die skepping in die algemeen ‘n ooreenstemming is tussen hulle binne en buite die Christelike geloofsgemeenskappe.

Hierdie punt wat Calvyn maak, word sterker uitgedruk in die Franse en Nederlandse Geloofsbelydenisse waarin uiteindelik kort en kragtig gestel word dat ons die wil van God ken vanuit die natuurlike orde (Sy handewerk!) en die Bybel. Uiteindelik word hierdie oortuiging – veral later in die 17de eeu in England – kort en kragtig saamgevat as die twee-boek tradisie. Ons kennis van God en die wil van God leer ons ken vanuit hierdie twee onderskeie maar komplimentêre “boeke” – beide deur God geskrywe! En dit is die kern wat ons opnuut in lyn met ons Reformatoriese tradisie tot vandag toe nog wil onderskryf, naamlik die saambedink van Christelike (Reformatoriese) teologie en kennis van die natuurlike wêreld soos in die natuurwetenskappe verwoord word.

Ons vertrou dat die buitengewone Algemene Sinode in November 2016 die NG Kerk se tradisie van Skrifhantering sal voortsit, die gees van die NG Kerk se missionale openheid gestand sal doen en die standpunt sal handhaaf dat alle mense met hulle volle menswees deel is van die liggaam van Christus.  Verder: Ons onderstreep die belang van eenheid in die kerk van Jesus Christus en ook in die NG Kerk. Daar is geen twyfel oor Jesus Christus se opdrag aan sy volgelinge om een te wees nie, en daarom pleit ons by ons broers en susters in die NG Kerk om dwarsdeur die onderskeidinsgprosesse oor selfdegeslagverhoudings eenheid na te streef. Ons is tewens oortuig dat die Skrif en die tye waarin ons leef, ons aanspoor om met nuwe ywer eenheid in die NG Kerkfamilie na te jaag.

Ondeteken deur:

DP Veldsman
D Human
N Niemandt
G Steyn
W Fourie
S Meyer
J Meylahn
C Wepener
G de Villiers
A Groenewald
H Janse van Rensburg

Die Aktuarius van die Oostelike Sinode (J vd Merwe) wat ook ‘n NG dosent is, is nie gevra om hierdie verklaring te onderteken nie, op grond van die rol wat hy in die kerk moet speel.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top