Paulus
Deur Adrio König
Uitgegee deur CUM, 2017
Resensie deur Frits Gaum
Met hierdie puik werk oor Paulus, “die indringer-apostel wat die evangelie gered het”, doen Adrio König dit weer: hy skryf ’n uitstekende boek waarin hy deeglik ingaan op deurslaggewende sake in ons geloof, aandui in watter rigting antwoorde op probleemvrae gesoek kan word, en veral sê waarom die evangelie van Jesus Christus steeds die rigsnoer van sy lewe is. En dit alles doen hy in die taal van “gewone” lidmate wat selfs teoloë sal kan verstaan.
In hierdie werk – dalk die beste oor Paulus in Afrikaans – skryf König dat sy navorsing oor Paulus een van die opwindendste tye in sy hele lewe was: “Ek lees en preek hom al soveel jare. Ek kon nooit dink hoeveel nuwe aspekte van sy boodskap ek sou ontdek met ’n bietjie goeie navorsing nie”. En het hy nie deeglike navorsing gedoen nie! Die nege bladsy lange literatuurlys aan die einde van die boek vertel nie net hoe baie daar al oor Paulus en sy teologie geskryf is nie, maar ook hoe wyd König gelees het in sy nadenke en navorsing oor Paulus.
König skryf uitgebreid en deeglik oor die vraag waarom Paulus in sy briewe so selde na Jesus se aardse lewe verwys; oor Paulus se lewe en werk, sy preke, sy insig dat ons net deur geloof in Christus gered word; oor die kruis, Christus se opstanding, die doop en die besnydenis, die Christus- en Geeslewe, die kerk, die huwelik, die vrou in die kerk, Christus se wederkoms … en oor God. Elke bewering wat hy maak, word gesteun met Skrifbewyse, en waar die Skrif nie duidelik is nie, sê hy so. Hy skryf onbeskroomd as gelowige teoloog, nie as teoloog wat ter wille van akademiese “korrektheid” liefs sy eie geloofsoortuigings onder ’n maatemmer wegsteek nie.
König dui die spanning in die vroeë kerk tussen die evangelie wat die Jerusalem-gemeente verkondig het en dié van die (hoofsaaklik) nie-Joodse gemeentes wat Paulus gestig het, duidelik aan. Vir Jerusalem was ’n vashou aan die Wet en voorskrifte van die Wet – soos die Sabbat en besnydenis – aanvanklik nog van groot belang, terwyl dit vir Paulus altyd net om geloof in Christus gegaan het. König wys daarop dat hierdie verskil in ’n groot mate uit die weg geruim is met die eerste “sinode” in Jerusalem (Hand 15) toe Paulus, die “indringer-apostel”, die evangelie van die dwingelandy van die Wet “gered” het.
Een puntjie van kritiek: Verbasend genoeg bespreek König die kwessie van selfdegeslagseks – waaroor Paulus in ’n sekere konteks bepaalde uitsprake gemaak het – nêrens nie. Was Paulus nie, ironies genoeg, in hierdie verband opnuut “wetties” nie?
Baie dankie, Adrio, vir ’n baie belangrike en tydige werk.
