Nuwe verbeelding bring lewe vir gemeentes

Binne vyf jaar sal 80 uit ’n bepaalde sinode se 118 gemeentes finansieel terminaal wees, het die Algemene Sinodale Moderamen by sy jongste vergadering gehoor. Na aanleiding daarvan het Kerkbode ds Danie Mouton, direkteur van die Oos-Kaapse Sinode, gevra om aan die hand van voorbeelde uit hulle sinode iets te skryf oor ou en nuwe maniere van kerkwees.


Baie kerkmense vrees vir die toekoms van die kerk. Vir baie lyk dit of die kerk gaan sterf. Fi­nan­sies, lidmaatstatistiek en ’n gebrek aan jong­mense skets ’n negatiewe prentjie.

Wat presies is terminaal? Beslis nie die kerk as so­danig nie. Wat sterwend is, is ’n bepaalde manier van kerkwees. Ons ou, tradisionele aanpak werk al hoe min­der. Selfs die beste talent en beste dominees van die NG Kerk kan dit nie meer maak werk nie.

Ons het almal ’n diep geïnternaliseerde prentjie van wat ’n gemeente is. Dit is só vanselfsprekend dat ons nooit daaroor dink nie. Ons toets nie die aannames waar­mee hierdie prentjie werk nie. Dit lê volledig in ons blindekol.

’n Kleinding speel heerlik in die paadjie terwyl Algoa Gemeenskapskerk se erediens aan die gang is. Hy is welkom.

Hoewel in ons blindekol, beheer hierdie geykte prentjie ons. Dit is gemeenteleiers se roetekaart, dit be­paal ons optrede en ons verwagtings. Daaraan meet alle lidmate die kerk. As ons sukkel, probeer ons hierdie prentjie net nog beter doen.

Dié prentjie kan dodelik wees. Dit kan ons oor die af­grond lei. Dit kan ons doodmaak, ons “finansieel ter­minaal” maak, soos die sinode hierbo sê.

Ons ou prentjie is die Christendom se manier van kerk-wees. Dit kom uit ’n tyd toe kerk en godsdiens vir almal ’n prioriteit was. Daar was destyds sosiale kragte in die samelewing wat mense kerk toe gedryf het. Dit het verdwyn. Vaardighede en modelle wat toe gewerk het, faal ons nou. Hierdie era is onherroeplik verby.

Die Nuwe Testament is ryk aan verbeelding en metafore wat ons kan help om eietyds nuut en vars getrou aan die evangelie te wees. Die belangrikste verandering moet binne in ons kop gebeur. Ons moet ’n nuwe, Bybelse prentjie van kerk-wees ontwikkel en uitleef.

Dit is besig om te gebeur.

Oral rondom ons sien ons lidmate en gemeentes wat inderdaad met die wonderlikste, nuwe inisiatiewe na vore kom. Ek noem ’n paar voorbeelde:

In Port Elizabeth floreer Algoa Gemeenskapskerk in ’n blouboordjieomgewing. Die gemeente het ’n paar jaar gelede byna toegemaak toe sy dominee ’n beroep na ’n ander gemeente aangeneem het. ’n Klein Gideonsbende van mismoedige lidmate het oorgebly. Hulle het egter besluit om kerk te wees met die bronne wat hulle het. Daar was net ’n ouderling wat hulle kon lei, ’n nuwe predikant was buite die kwessie.

In die pynlike wroeging oor hul voortbestaan het die gemeente begin bid vir God se leiding. Hulle oë het oopgegaan vir die baie jongmense in hulle omge­wing, die héle gemeenskap se jongmense. Hulle het die geestelike vorming van jongmense as God se roe­ping vir hulle ontdek.

Ds Gielie Noeth van Anchor of Hope by Ferai en Blessing Robsom en hul klein­ding. Die egpaar het elk 8 modules van gesertifiseerde Microsoft-op­lei­ding voltooi.

Die gemeente het prakties begin planne maak om die jongmense by hul bediening te betrek. Hulle het geleer aanbidding moet interaktief wees. Die erediens het ruimtes geword waar die kinders aktief deelneem, saam sing en dans, en die gemeente saam met hulle. Sedertdien het hulle verskeie kere al aanpassings aan hul bediening gemaak, soos hulle leer en omstandighede verander.

Die dominee is vervang met ’n leierspan. Verskillende gawes word hier ver­teen­woordig, gawes wat mekaar aanvul en ’n gedeelde visie het. Die gemeente doen nie veel nie, behalwe erediens hou, ’n jeugkategesebyeenkoms in die week. Kleingroepe en gebedsgeleenthede. La­ter, toe finansies verbeter het, het ’n deeltydse leraar weer deel van die span geword. Hulle het egter nooit weer na ’n domi­nees­kerk teruggekeer nie.

Wat is die vrug? Die erediens is vol, hulle bediening raak die hele woonbuurt, en hulle is ook via vennote betrokke by ander woonbuurte, waar­onder die armstes van die armes. Ook daar word dissipels gemaak.

Die jongklomp van Algoa Gemeenskapskerk vertel wat hulle alles doen om belangrike dinge te onthou. Die gesprek stuur af op die Here wat die nagmaal gegee het sodat ons sy offer vir ons sonde kan onthou.

Die Ring van Port Elizabeth-Wes het Algoa Gemeenskapskerk onlangs genooi om hul verhaal by ’n ringsitting te vertel. Daarna het die ring nagedink oor die beginsels, strategieë en werks­wyses wat hierdie gemeente se prentjie van bediening uitmaak. Ons is getref deur die leierspan met diverse gawes, die eenheid van visie, ’n sentrale fokus, en die wyse waarop ’n tekort aan geld die (steeds arm) gemeente nie terug­hou nie.

Een van die ringsgemeentes is Blouwaterbaai Familiekerk, ’n NG gemeente wat kies om ook ’n multikulturele erediens in Engels te ontwikkel. Waarom? Die gemeente het hul roeping ontdek om hulle hele gemeenskap, en ook omliggende gemeenskappe, te dien. Die erediens groei stadig, maar die gemeente kon reeds vier swart leiers saambring na die ringsitting.

Na afloop daarvan het Knight Mali, ’n swart afgevaardigde en lidmaat van Blouwaterbaai, gesê die ringsitting het hom geïnspireer. Die pas­sie om ’n verskil in die gemeenskap te maak, sê hy, leef duidelik by al die afgevaardigdes. Hy wil meer aktief deelneem aan sy gemeente se be­die­­ning om in Christus se Naam ’n verskil te maak.

Ek was onlangs by ’n erediens van Anchor of Hope, ’n NG gemeente in die middestad van Port Elizabeth. Die erediens het saamgeval met die jaarvergadering van die gemeente se ge­meen­skapsontwikkelingsinisiatief. In plaas van dokumente het die gemeente die impak van sy be­diening voorgelê deur mense se stories te vertel.

Die nagmaal word in Algoa Gemeenskapskerk gevier terwyl ouers en kin­ders aan plat tafels aansit. Vandag het almal soos Bybelfigure aangetrek.

Ons het feesgevier oor Franssprekendes wat in die gemeente se Engelse klasse taal kon bemeester wat hulle inskakel by die gemeenskap. Mense wat voorheen nie kon werk kry nie, wat deur die gesertifiseerde rekenaarklasse die arbeidsmark kon betree. Bestuurdersklasse het aan mense motorlisensies besorg. Hulle, wat vroeër in die duisternis van armoede geleef het, het nuwe hoop. Hulle het ook ’n nuwe geloofsge­meenskap waar hulle aanvaar word en kan dien.

Een van die swart studente wat uit benarde omstandighede kom, het leer klere maak. Dit het ’n nuwe wêreld vir hom laat oopgaan. Hy is nou gekeur om formeel in klereontwerp verder te gaan studeer.

Anchor of Hope se projek het begin toe die gemeente snags Bybelverspreiding onder immigrante en dwelmhandelaars in die sentrale stads­gebied begin doen het. Die konneksie met die verlorenheid en nood in die gemeenskap het die gemeente omgekeer.

Op ’n onlangse voorblad van Kerkbode was die verhaal van Villieria-gemeente wat ’n basaar hou waar alles weggegee word. Soos in Jesus se gelykenis in Lukas 14 word mense van die straat en uit stegies genooi om te kom deel in die fees.

Dit is alles voorbeelde van ’n nuwe missio­nale, dienende prentjie van kerk-wees wat opstaan in ons kerk. Kerkmense vra nie meer na jou kleur, taal of klas nie. Dinge draai nie meer om begrotings en geboue se instandhouding nie. Dit draai om mense se nood aan skuld, vergifnis, versoening met God en medemens, sosiale isolasie en omarming.

Kerkbode se bladsye is week na week vol van sulke verhale van innoverende lidmate en ge­meen­tes wat op tienduisende maniere gemeenskappe dienend betree. Hulle maak mense by­me­kaar in Christusgemeenskappe waar die lig van die evangelie hulle lewe verlig.

’n Sentrale kenmerk van hierdie gemeentes is ge­lowiges wat ’n nuwe belewenis van gemeenskap met Jesus Christus het. Dit is Jesus-ge­meen­skappe, gekoester in die liefde van die Va­der en deur die krag van die Heilige Gees, wat alles sal gee om Jesus na te volg.

Ons krisis is dat die ou, tradisionele prentjie van kerk-wees nie hierdie nuwe prentjie kan waardeer en eien vir wat dit is nie.

Vir baie klink sulke berigte maar net na stories van groentetonnels, ’n lewendige erediens, of ’n interessante gemeenskapsprojek. Die bril van die Christendom-model laat jou die essensie miskyk.

Kerkmense met die ou prentjie besef nie dis die nuwe missionale toekoms van die kerk wat voor hulle oë gebore word nie. Hierdie verhale is soos ’n blomknop wat nog maar net begin oopgaan. Die groter skoonheid lê nog voor. Ons sien net die eerste swaeltjies wat ’n nuwe somer gaan bring.

Mnr Vusumzi Gubevu ontvang erkenning tydens Anchor of Hope se jaarvergadering vir sy naaldwerkklasse wat hy suksesvol by Marina Noeth deurloop het. Hy het nou sy eie besigheid.

Ons taak is om onsself vir hierdie toekoms te gee. Dit is ’n tyd vir bedieningspraktyke om te sterf en agtergelaat te word. Hierdie grondplan vir kerk-wees (sien kassie), wat onnadenkend on­derskryf word, maak die kerk in ons tyd dood.

Die vraag is natuurlik hoe ’n nuwe grondpatroon van kerk-wees gemeentes se finansiële pro­bleme gaan oplos. Dit laat nie geld inrol nie. Dit transformeer wel die gemeente na ’n plek waar geld nie meer die deurslag gee of die hoof­item is nie. Mense doen en dien, want hulle wil. Dit is wat die Here vra.

Die rol van predikante in ’n post-Christendomkerk skuif na mense wat die ruimte help skep dat gelowiges se gawes tot hulle reg kom. Niks betekenisvol gebeur as ’n span met diverse gawes maar ’n sterk gemeenskaplike visie nie die gemeente lei nie.

Ek is hoopvol oor die toekoms van die kerk, spesifiek die NG Kerk. Dit gaan egter van ons vra om te sterf aan ons ou manier van kerk-wees. Ons het nodig om radikale navolgers van Jesus Christus te word wat die evangelie toelaat om ons om te keer.

Hoe lyk die ou kerkmodel wat agtergelaat moet word?

  • Voorheen was die gemeente iets met ’n kerkgebou, pastorie, en leraar. Die lidmate word deur die le­raar bedien. Die gemeente is geïsoleer van die breë gemeenskap. Daar is ’n lidmaatlys, en bediening is oorwegend gerig op lidmate.
  • Diegene wat vir eredienste bymekaarkom praat dieselfde taal, het dieselfde agtergrond en kom breedweg uit dieselfde klas. Die bediening is gefokus op die instandhouding van die gemeente. Die finansiële verpligtinge (salarisse en bedie­ning) word deur die lidmate se dankoffers en fondsinsamelings bekostig.
  • Hierdie gemeente het ’n sterk afkeur aan risiko. Die kerkorde speel ’n deurslaggewende rol en word dikwels misbruik deur die hekwagters om nuwe inisiatiewe te demp.
  • Die verwagting is dat die dominee die gemeente moet lei, en verantwoordelik is vir die “sukses” daarvan. Inisiatiewe word streng gekontroleer en beheer staan voorop.