Daar is goed wat kanker nié kan doen nie

wat kanker nie kan doen nie

Deur Phyllis Ten Elshof en ander
Vertaal deur Linda Beukes
Uitgegee deur CUM, 2017
Resensie deur Henda Gaum


Hierdie merkwaardige boek is geskryf deur per­sone wat bereid was om die stories van hul­le pad met kanker met ander te deel. Dis oorspronklik uitgegee deur Zondervan (VSA), netjies in Afrikaans vertaal deur Linda Beukes en in handige formaat deur CUM gepubliseer. Die skrywers se ver­ha­le van hoop en wanhoop in een van die lewe se aller­moeilikste omstandighede, word aangrypend eer­lik vertel.

Wat kanker nie kan doen nie wys dat kanker eintlik nie so magtig is as wat ’n mens baie keer dink nie. Dit kan nie God se liefde lamlê nie, nie hoop verpletter nie, nie geloof tot niet maak nie, nie vrede vernietig nie, nie vriendskap doodmaak nie, nie herinneringe steel nie, nie dapperheid demp nie, nie die siel binnedring nie, nie die ewige lewe wegvat nie, nie die gees verslaan nie.

Hierdie boek moedig die kankerlyer aan om hoop te hê al is die stryd soms bitter swaar, om die geloof te behou al val jou hare uit as gevolg van chemo-behandeling, om moedig te bly al kom die gevreesde jaarlikse ondersoek nader.

Die aanhalings uit die Skrif laat ’n mens telkens besef dat die Bybelmense ook deur diep dale moes gaan, maar dat die Here nie hulle hand gelos het nie, en dit ook nie met ons sal doen nie. Die verhale van mense wat kanker oorwin het, bemoedig die leser, maar die feit dat kanker soms wel oor die liggaam die oorhand kry, word nie weggesteek nie.

Die leser word deur al die fases van kanker en die behandeling daarvan geneem, die verskillende soorte behandeling en die gevolge daarvan word bespreek, en kankerlyers word gehelp om dit op die beste ma­nier te hanteer … en hulle sorge aan God oor te gee. ’n Mens word stap vir stap gelei tot kalmte en aanvaar­ding. En jy leer verstaan dat kanker baie dinge kan regkry, maar méér dinge nié kan doen nie.

Die klein, beskeie boekie Wat kanker nie kan doen nie is ’n kosbare juweel wat elkeen wat met kanker te doen kry, moet lees: mense wat kanker het, ja, maar ook hulle familie en vriende. En dit is ons almal, want die kankerwolf het op die een of ander manier al aan ons almal se deure kom krap.