Kerk betwis nie appèlle se ongeldigheid nie

Die NG Kerk se verdediging van sy besluite van die buitengewone Algemene Sinode van 2016 berus nie daarop dat appèlproses teen 2015 se besluite kerkordelik ’n geldige proses was nie.

Dit blyk uit die hofstukke wat die kerk opgestel het in reaksie op stukke van vier lidmate wat vra dat die hof die besluite van 2016 nietig verklaar. Teenoor die be­sluite van die Algemene Sinode van 2015, wat kerk­li­ke goedkeuring gegee het aan gay burgerlike verbintenisse, het die 2016-besluite slegs ruimte gelaat vir hete­roseksuele huwelike.

Een van die lidmate se belangrikste prosedurele argumente, is dat die appèlproses waardeur die besluite van 2015 nietig verklaar is, onkerkordelik was.

Die Algemene Taakspan Regte het aanvanklik ge­werk met regsdavies dat die appèlproses geldig is.

Deur die loop van 2016 was daar verskeie regsadviese wat ook gemeen het dat die kerkorde nie appèlle teen besluite van die Algemene Sinode toelaat nie. Daar­­onder was ’n advies wat deur dié lidmate aan die kerk gestuur is, en regsadvies wat die kerk self ingewin het.

Die Algemene Taakspan Regte het egter deurgaans besluit om nié dié adviese te volg nie, maar het volgehou dat die appèlproses tog binne die kerkreg geldig was.

Nou het die kerk in sy regstukke ’n ander koers ingeslaan. Die kerk betwis nou nie die lidmate se stelling dat die appèlproses onkerkordelik was nie. Die kerk voer egter aan dat die besluite van 2016 nie direk voortvloei uit die uitkoms van die appèlproses nie.

Volgens die kerk se argument het die sinode van 2016 ’n onafhanklike besluit geneem, losstaande van die appèlproses, om die hele saak van voor af teologies te beredeneer. Die besluite van 2016 is ’n uitkoms van daardie proses.

Dít, sê die kerk nou, beteken dat selfs al sou die appèlproses ongeldig wees, staan die besluite van 2016 steeds.

Die kerk ontken ook in sy stukke die stelling van die lidmate dat die besluite van 2016 bots met die Grondwet van Suid-Afrika of met die Handves van Godsdienstige Regte en Vryhede wat deur die NG Kerk onderskryf is.

Die kerk se stukke verwys onder meer na ’n beslis­sing van die Konstitusionele Hof. Daarvolgens bots die staat se erkenning dat paartjies van dieselfde geslag dieselfde regte het as wat die Huwelikswet aan hetero­seksuele paartjies toeken, nié met godsdienstige groe­pe se regte om te weier om selfdegeslagverbintenisse te be­vestig nie.

Die kerk ontken ook spesifiek ’n stelling van die lidmate dat die besluite van 2016 hulle reg op vryheid van assosiasie aantas. Hieroor sê die kerk se hofstukke verder: “They are free to join any Christian church that interprets the Bible in the way that they do, or to start their own. I acknowledge that this may be difficult for them. But they must, in turn, acknowledge the impact the church has in obeying the Word as it understands it.”