Jongres 2019: ‘Dapper gesprekke’ oor seks en saamwees

“Jongmense word van vroeg af geleer deur huis en kerk dat daar iets met seksualiteit verkeerd is.”

So meen ds Francois Lamprecht, sameroeper van Jonk Vrystaat. Hy het hierdie waarneming gemaak tydens die Jongres 2019 op 15 en 16 Maart in die Vrystaat.

“Dit was ʼn skok om te sien hoe ontsettend diep die skuld wat ons met seksualiteit assosieer gaan sit in ’n jongmens se siel. So diep dat hulle meer geneig is om iemand te glo wat hulle veroordeel as hulle bevry. Hulle neem aan hulle moet oor alles skuldig en vuil voel. Geen wonder hulle voel hulle kan nie praat hieroor nie,” sê Lamprecht.

Sowat 100 hoërskoolleerders het vanjaar vir twee dae by die NG gemeente Hugenoot in Bloemfontein saam kom gesels oor masturbasie, verhoudings, kommunikasie, pornografie, huwelik en misbruik.

Seksualiteit is as tema gekies nadat tieners tydens Jongres 2017 opgemerk het dat die kerk geen leiding vir jongmense oor seksualiteit bied nie.

Lees ook Die Here wil hê dat die vuur van die liefde reg brand in al sy kinders se lewe

Nog ʼn versoek vanaf tieners was dat hulle leiding eerder as net inligting oor seksualiteit soek. “Tieners wil blootstelling hê aan deelnemende gesprekke waarin daar reguit gepraat word,” sê Lamprecht.

Ds Francois Lamprecht tydens die Jongres in Bloemfontein.

Volgens Lamprecht, wat ook ʼn fasiliteerder by die kongres was, was daar ʼn paar dinge in plek om te sorg dat jongmense gemaklik was met die onderwerp. “Ons het elke sessie begin met ons eie verhale oor seksualiteit, ons eie eerlike struggle daarmee. As jy eers sien dat elkeen in die kamer dieselfde stryd stry praat ʼn mens makliker.

“Ons het ook tafel-fasiliteerders gehad wat die moeilike vrae en opmerkings in die groot groep na vore gebring het. Dit skep ’n veilige buffer vir die skaam kinders en dan natuurlik die grootste element is dat dit jongmense is wat saam om ’n tafel sit en saam met mekaar daaroor kan praat Dis deurslaggewend vir die sukses van so ’n gesprek.”

ʼn 17-jarige Jongresganger stem saam: “Ek was gemaklik want daar was nie oordeel nie en die mense wat deelgeneem het was dieselfde ouderdom.”

“Ek het ook daarvan gehou dat daar ’n leier by elke groep was om al die ‘embarrassing’ vrae van die groep met die ander te deel,” was ʼn 16-jarige se waarneming.

Vir ʼn ander kongresganger was Madeleen Steenkamp, ʼn seksuoloog, ʼn hoogtepunt. Aldus Lamprecht het Steenkamp veral oor “masturbasie en die onnodige skuldgevoel daaroor asook die effek van pornografie op jongmense se seksualiteit” gesels.

“Die doel van die Jongres is om jong gelowiges, spesifiek hoërskool kids se stemme te hoor sodat ons werklik iets kan verstaan van hulle wêreld voor ons begin antwoorde gee. Die probleem is nie net dat ons nie besef wat die regte vrae is nie, maar dat ons glad nie hulle taal verstaan nie. ’n Antwoord kan teologies reg wees, maar heeltemal onverstaanbaar of irrelevant wees. Hulle laat ons in hulle lewe in en leer ons wat dit is om vandag ’n jong gelowige op skool te wees,” aldus Lamprecht.

Volgens Lamprecht wil hulle die inligting gebruik om “jeugleiers beter voor te berei vir relevante gesprekke, asook om effektiewe materiaal te help skep wat sinvolle gesprekke oor seksualiteit kan fasiliteer”.

ʼn Volledige verslag van die Jongres word binnekort op www.jonkkerk.co.za gepubliseer  en sal ook op www.kerkbode.co.za te vind wees.

Tieners vertel

“Groepsdruk kan as ’n uitdaging gesien word rondom seksualiteit. In ons alledaagse lewe word ons byna elke dag beïnvloed deur ons vriende. Dit kan ’n probleem raak as jou vriende byvoorbeeld reeds seksueel aktief is, want hulle kan probeer om jou om te praat en dus jou waardes as gelowige op die proef stel.”

“Die ding wat ʼn groot impak in die twee dae op my gemaak het is dat ’n mens nie alleen in die lewe is nie en dat daar ander tieners in die samelewing is wat dieselfde goed beleef oor hulle lyf as jy. Nog ʼn ding is dat al die ‘sondige dade’ wat die kerk mens laat glo, nie altyd waar is oor jou seksualiteit nie.”  

Tieners het saam aan tafels gesit sodat hulle “in gesprek” aan sessies kon deelneem.

“Ek het meer vertroue in die kerk vandat ek gehoor het jy gaan nie ‘hel’ toe as jy daaroor wil praat of wonder nie. Die tweede dag het ek baie meer gemaklik gevoel om oor my seksualiteit te praat en te weet jy hoef nie bang te wees om met mense in die kerk daaroor te praat nie. Ek dink alle kerke moet so iets doen.”

“Ek het geleer dat almal anders dink oor hulle seksualiteit en dat daar soveel meer is aan seksualiteit as net fisiese kontak.”