I HAVE COME A LONG WAY
Deur John W de Gruchy
Uitgegee deur Lux Verbi, 2014
Resensie deur Laurie Gaum
John de Gruchy boekstaaf sy uitsonderlike lewe in hierdie boek op kenmerkend indrukwekkende wyse – ’n lewe as akademikus, teoloog, skrywer, stryder vir geregtigheid, Christen-humanis, houtwerker, ouer en mensch.
Dis ’n vinnig-bewegende reis oor kontinente heen vir akademiese verpligtinge, die aanbieding van lesing-reekse en gedenklesings, die bywoning van konferensies, die ontvangs van vererings. Dit geskied egter nie sonder dat De Gruchy die verskillende kontekste indrink en daardeur verryk word nie. In die proses word sy eie lewe gespieël in dié van sy groot inspirasie van wie hy ook ’n wêreldkenner is, Dietrich Bonhoeffer.
I have come a long way bied oorsig oor en insig in die teologiese verset teen apartheid, aanvanklik vanuit Engels-liberale hoek. Maar De Gruchy het reeds vroeg aanvoeling vir die beperkinge van sy wit perspektief. Tog is die vroeë verhaal van die struggle, sowel as van teologie en akademie, byna uitsluitlik ’n verhaal van manlike spelers.
De Gruchy se lewensmaat Isobel is ’n deurlopende reisgenoot vir De Gruchy en haar “stem” word ook hoorbaar deur haar aangrypende digkuns wat in die boek opgeneem is. So is ’n mens ook bewus van Steve, De Gruchy se teoloog-seun, wat tragies voortydig oor-lede is, se teenwoordigheid in die boek.
Terwyl die weergawe van gebeure plek-plek gevaar loop om lys-agtig te raak, slaag die De Gruchy-skryf-kuns oudergewoonte daarin om verrassend te boei. De Gruchy se reis om meer persoonlike teologie te skryf – wat hy met Being human: Confessions of a Christian humanist en Led into mystery begin het – word hier volvoer. Dit bied ons die moontlikheid van teologie wat veel meer toeganklik en onderhoudend is, altyd met ’n tikkie humor.
Hierdie kragtoer is getuienis daarvan dat John de Gruchy inderdaad ’n ver pad geloop het: saam met familie, vriende, kollegas en reisgenote, saam met ons land en sy mense, saam met sy tyd en sy wêreld – as Christen en as mensch.
▶ Laurie Gaum is verbonde aan die Sentrum vir Christelike Spiritualiteit.
