Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Dirk Hattingh dig tot by 90!

DIE LAASTE DRAAI
Gedigte deur Dirk Hattingh
Self-uitgegee, 2015
Resensie deur Fanie Marais


Die laaste draaiDie vierde digbundel van Dirk Hattingh – negen­tigjarige emeritus-leraar en eertydse moderator van die Wes-Kaapse Sinode – het verskyn: Die laaste draai. Hy het met ’n vorige bundel gesuggereer dat sy tyd verstreke is. Toe nie!

Die laaste draai dek ’n verskeidenheid temas: oor skryfwerk, natuur, verbeelding, eenvoud, integriteit, brein, onderbewussyn, plaaslewe, aftrede en sterfte. Die digter vind sy onderwerpe in sy onmiddellike omgewing. Hy was ’n plaasseun en dig daarom oor boerderysake. Hy lees koerant en lewer digterlike kommentaar oor aktuele sake. Hy woon in Huis Silwerkruin op Wellington en dig oor die uitsig vanuit sy venster, of die val en seerkry van oumense.

Dít is wat die gedigte laat slaag. Dis gestroopte, onpretensieuse meditasies oor sintuiglike ervarings waarmee ek my heelhuids kan identifiseer. Hattingh het byvoorbeeld ’n groot plat skottel waarin optelgoed soos skulpe en klippe lêplek kry en hy dig daaroor in “Nessie” en “Opgetel”. Net so word die soetdoringboom voor sy venster die inspirasie vir ’n paar gedigte. Maar hy dig nie net oor klein daaglikse ervarings nie. Ook sake wat skok en opslae maak kom in sy digwerk ter sprake, soos die ontstellende gedig “Oscar”.

 Die digter is hiperbewus daarvan dat sy tyd uitloop. Maar as gelowige het hy vrede met sy eindigheid. Die gedig “Natrossies” ontroer en is verruklik. Oom Dirk spreek die wens uit dat sy as eendag gestrooi sal word “in die bedding van die Witrivier / in Bainskloof, waar die witwinterwaters eeue lank / aan die grofste klip bly skuur / totdat almal spierwit is …” Die bandontwerp van die digbundel vertoon juis so ’n spierwit bedding klippe wat langs die slingerpad bo in dié kloof lê.

 Die laaste draai is ’n diep bevredigende leeservaring. Dirk Hattingh mag maar dig – tot anderkant die laaste draai.

▶ Dr Fanie Marais is kunstenaar en pastorale hulp vir bejaardes in Goodwoodpark.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top