Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Hieroor moet ons konsensus bereik

n Sleutelvraag onderliggend aan die gay-debat, is die vraag na hermeneutiek: Hoe verstaan ons wat die Bybel vir gelowiges wil sê oor verhoudinge tussen mense van dieselfde geslag? Twee bydraers met verskillende standpunte oor sulke verhoudings gee hier hulle perspektiewe oor die lees van die Bybel.

Lees ook Louis Jonker se alternatiewe perspektief: Verantwoordelik lees moet só lyk


Die homoseksualiteit-debat dryf tans in die NG Kerk ’n dieperliggende probleem op die spits, naamlik dat die Skrif op verskillende maniere beskou en uitgelê word. Dié debat is ook nie die enigste wat voortvloei uit verskillende hermeneutiese benaderings in die kerk nie. Dink byvoorbeeld terug aan die Algemene Sinode (2011) se besluit oor die “werklike en persoonlike aard” van die bose, al dan nie.

[aesop_character img=”https://kerkbode.christians.co.za/wp-content/uploads/sites/2/2016/02/Dirk-Venter2.jpg” caption=”Dr Dirk Venter is predikant van die NG Gemeente Swartruggens en buitengewone lektor aan die NWU.” align=”right” width=”270px”]

Hoewel diversiteit in ’n kerk verrykend kan wees, is verskillende beskouinge ten opsigte van kernsake eerder verdelend. Die hantering van homoseksualiteit as sulks is nie noodwendig ’n kernsaak nie, maar is só verweef met die vraag van Skrifbeskouing en -uitleg, dat dié debat ’n wesenlike bedreiging vir blywende eenheid inhou. Die uitkomste van die debat in ander kerke (internasionaal) het dit bewys.

Hierteenoor vereis die hoë waarde wat ons aan die Skrif heg (as bepalend vir leer en lewe) en ons eenheid, dat ons hard daaraan sal moet werk om groter konsensus te bereik oor die vraag hoe ons die Bybel behoort te lees. As ons nie hierin slaag nie, gaan daar mettertyd al hoe minder dinge oorbly waaroor ons saamstem, hetsy betreffende die aard van die bose, die hantering van homoseksualiteit, of die volgende groot vraagstuk.

Hoewel die homoseksualiteit-debat as sulks belangrik is, is die onderliggende vrae hoe ons die Bybel behoort te lees, en wat bepaalde maniere van Bybel-lees se gevolge vir die kerk is, selfs belangriker.

Onder meer die volgende punte, wat betrekking het op Skrifuitleg, veroorsaak probleme in die homoseksualiteit-debat.

1. Die Skrif is deur God geïnspireer en gesaghebbend ook vir vandag, al het dit binne bepaalde historiese kontekste en deur die bemiddeling van mense tot stand gekom. Ons moet versigtig wees vir die gedagte dat Bybelboek-skrywers in hul voorwetenskaplike denke eenvoudig “nie van beter geweet het nie”, en daarom sekere dinge geskryf het wat vandag nie meer aanvaar kan word nie omdat ons aan die hand van die wetenskap nou beter weet. Die gesag van die Skrif word hierdeur gerelativeer en ondergeskik gestel aan die gesag van die (mens se) wetenskappe. Sou ons hierdie soort hermeneutiek konsekwent akkommodeer, moet ons ook ruimte maak vir standpunte soos byvoorbeeld dat die maagdelike geboorte, die opstanding uit die dood, ensovoorts, mites is, omdat dit skynbaar voorwetenskaplike denke weerspieël.

2. Standpunte oor wat die Bybel vandag vir ons sê, moet op deeglike en verantwoordelike eksegese gefundeer wees. Die argumente waarvolgens die relevansie van al die sogenaamde “proeftekste” byvoorbeeld gereduseer word tot ander vorme van homoseksuele gedrag, en nie verhoudings van liefde en trou nie, staan nie op oortuigende eksegetiese fondasies nie.

3. Die sosio-historiese kontekste van onderskeidelik die teks en die leser, moet verreken word. Hermeneutiek wil tot verstaan kom van die teologiese boodskap (etiek ingesluit) van ’n teks, in die konteks waarin dit verwoord is, om dit dan oor te dra en te verkondig in die hedendaagse konteks. Verskille tussen die kontekste moet egter nie oordryf word nie. Sommige voorstanders van die standpunt dat die soort homoseksualiteit waarvan daar in die Bybel gepraat word, nie verhoudinge van liefde en trou was soos vandag nie, ignoreer ongelukkig historiese gegewens wat bewys sodanige verhoudings was bekend in die tyd van die Nuwe Testament. Om aan te neem die Nuw-Testamentiese tekste het nié op sodanige homoseksuele verhoudings betrekking nie, is dus nie korrek nie.

4. Die verstaan van die Bybel as geheel, nie van tekste asof hulle geïsoleerd is nie. Die groter verbande van die boek waarin ’n teks voorkom en die res van die Skrif, moet verreken word. Ten spyte van bewerings tot die teendeel, word hierdie beginsel wel gehandhaaf deur dié wat oortuig is dat die Skrif as geheel die beoefening van homoseksualiteit afwys. Dié gevolgtrekking is immers gebaseer nie net op sekere “proeftekste” nie, maar onder meer ook op die konsekwente Bybelse spreke oor die aard van die huwelik. Hierbenewens moet sekere polariteite in die Skrif ook telkens met mekaar in verband gestel word, sodat die een nie ten koste van die ander oorbeklemtoon word nie. Byvoorbeeld, God is liefdevol en genadig, maar ook regverdig: Hy veroordeel sonde. Die kerk is inklusief, maar ook eksklusief (ten opsigte van die vereiste van geloof asook van morele standaarde; vgl 1 Kor 5). Liefde behels insluiting, maar ook tugtiging, ensovoorts.

5. Verskille binne die kanon. Nie alles wat in die Ou Testament gegeld het, geld vandag net so vir die kerk nie. Die koms van Christus het immers ’n groot verskil gemaak. Ons verstaan die Ou Testament nou in die lig van sy lewe en boodskap. Wanneer ’n bepaalde saak egter regdeur die kanon konsekwent hanteer word, sonder interne kritiek of ontwikkelende koersaanpassings (byvoorbeeld rakende slawerny), behoort ons dié beginsels (hermeneuties verantwoordelik) steeds te handhaaf. Die beoefening van homoseksualiteit word konsekwent regdeur die Skrif afgewys. Dis duidelik dat die kerk van die begin af aanslui-ting gevind het by die Judese seksuele etiek. Die afwysing van homoseksuele gedrag is daarna in die vroeë kerkge-skiedenis gehandhaaf.

Die koers – deur die afgelope Algemene Sinodes ingeslaan – van ruim akkommodering van hermeneutiese verskille, het die NG Kerk waarskynlik by ’n waterskeidingsmoment gebring. Die vraag hoe ons die Bybel voortaan gaan lees, verg dringend aandag.


Kerkbode nooi sy lesers om deel te neem aan die debat deur briewe van hoogstens 300 woorde aan kerkbode@tydskrifte.co.za te skryf. Hou die briewe asseblief saaklik, sodat die debat bo die vlak van persoonlike aanvalle kan bly.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top