Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Marzanne se 8ste Israel-roman boei

Tikkun Ha’olam – HERSTEL DIE WÊRELD
Deur Marzanne Leroux-Van der Boon
Uitgegee deur Lux Verbi, 2014
Resensie deur Hetta van Niekerk


Tikkum Ha`olamDié is die agtste roman in die Israel-reeks van Marzanne Leroux-Van der Boon. Die reeks se sentrale karakters is Marc en Rivkah Krige en met verloop van tyd ook hulle twee seuns, Yhoshi en Natan. Marc is ’n dosent en kunstenaar en Rivkah ’n paramedikus.

Rivkah se ouers – rabbi Chaim en Hadassah Cohen – is, soos die Krige-gesin, Messiaanse Jode (Jode wat Jesus as Verlosser ken) en hulle woon in Jerusalem. Die leser beleef dié familie se wel en wee wanneer hulle tussen 27 November 2013 en 9 Januarie 2015 by verskillende geleenthede met terreur gekonfronteer word. Dit meng met Marc en Rivkah se liefdesverhouding in en stel Yhoshi en Natan bloot aan indrukke wat hulle uit ’n ontwikkelingsoogpunt eintlik nog nie gereed is om te verwerk nie. Hoe die impak hiervan hanteer word, gee die leser ook ’n kykie in die rykdom van sekere Joodse religieuse rituele. 

 Die titel van die boek verklaar die invalshoek van die teks. Tikkun Ha’olam beteken “om die wêreld te herstel”. Dit wat deur die Joodse volksmoord in die Hitler-era afgebreek is, word volgens Joodse tradisie herbou deur gebed, die studie van die Tora en dade van welwillendheid. Terwyl IS (“Islamitiese Staat” in Irak en Sirië) en sy saamlopers wêreldwyd dood en donker bring, staan Israel vir lewe en lig. Om die Here se kinders te wees, is ’n lewenswyse. “Ons sal bly staan omdat Ha-Shem (die Almagtige) ons sal láát staan. Ons en ons kinders” (bl 289). Die Amidah-gebed vir universele vrede sal daagliks bly opklink (bl 276): “Toe lig hy die beker met die nie-ko-sjerwyn en spreek die seën uit. (…) Hy neem die brood wat nie challah is nie en spreek ook daaroor die seën uit. (…) Hulle drink die wyn om die Ewige te dank vir nog ’n week waarin Hy aan hulle lewe geskenk het. En toe eet hulle die brood om Hom te dank vir nog ’n week waarin Hy in elke behoefte voorsien het” (bl 308, 309).

Marzanne Leroux-Van der Boon toon haar met die beelde en simbole wat sy gebruik, in hierdie roman opnuut as ’n skrywer van formaat. Haar eerste roman in dié reeks het dan ook destyds die ATKV-prys ontvang. Haar Israel-reeks is uit ’n bepaalde perspektief geskryf en sy toon daarin grondige kennis van Joodse gebruike, die huidige Israel, en die Bybel. In haar werk word bepaalde Joodse gebruike deur die Messiaanse Jode as ’t ware verchristelik en dit maak deel uit van hulle geloof as volgelinge van Jesus. Marzanne se historiese en kontekstuele navorsing beïndruk. Dit sal lesers met kennis van die Bybel en belangstelling in die wel en wee van Israel, enduit boei.

 ▶ Dr Hetta van Niekerk is ’n opvoedkundige sielkundige.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top