Die verhaal van Sodom en Gomorra word dikwels in die gay-debat opgehaal. Hierby is twee uiteenlopende lesings van die verhaal. Reageer gerus hierop met briewe aan kerkbode@tydskrifte.co.za van hoogstens 300 woorde.
Lees ook Dirk Human se alternatiewe perspektief: Sodom, ’n slagplaas van verkragting
Hoe lees ons die verhaal van Sodom en Gomorra?
Twee vrae is vir my belangrik: Wat sê die verhaal vir die eerste leser en dan: Wat sê die verhaal vir ons?
[aesop_character img=”https://kerkbode.christians.co.za/wp-content/uploads/sites/2/2016/03/Steve-van-der-Walt.jpg” caption=”Dr Steve van der Walt is predikant van die NG Moedergemeente George, asook navorsingsgenoot, verbonde aan die Departement Ou Testament, Universiteit van die Vrystaat.” align=”right” width=”270px”]
Die verhaal word in die eerste plek aan Israel gerig (586 vC) terwyl hulle in ballingskap in Babilonië sit. Die rede vir hulle ballingskap kan teruggevoer word na verskeie waarskuwings wat hulle verontagsaam het, nadat die Here hulle eeue vantevore uit Egipte bevry het.
Voorbeelde hiervan is onder andere Eksodus 15:26 en Deuteronomium 5:33 en 8:19. Die verhaal van Sodom en Gomorra word aan hulle as voorbeeld voorgehou van wat met jou kan gebeur (en gebeur het) indien jy van God afvallig raak.
Sodom en Gomorra se verhaal begin eintlik reeds in Genesis 17:1 met ’n uitnodiging (en natuurlik hand aan hand hiermee saam ’n waarskuwing): “Ek is God die Almagtige. Lewe naby My en wees opreg!”
’n Verbond en belofte van seën volg op die uitnodiging “lewe naby My” (letterlik, “bly op die pad!”).
Uit Genesis 18:20 kan ons aflei dat Sodom en Gomorra die pad byster geraak het: “Die geroep teen Sodom en Gomorra is hard. Hulle sonde is baie groot!”
Die grondwoord vir sonde (chata), kan ten beste uitgedruk word met die beeld van iemand wat ’n klip met ’n slingervel na ’n merk (teiken) in die pad gooi en dit dan mis. Dus, om die merk op die pad te mis!
Die morele verval, weg van God af (wat homoseksuele gedrag insluit), word in ’n ernstige lig gesien. In só ’n mate dat God ’n totale einde aan hulle wat die pad heeltemal byster geraak het, wil bring.
Waar kom genade en liefde dan in? Genesis 17 begin daarmee en Genesis 18 bou verder daarop uit, wanneer Abraham vir Sodom pleit, indien daar enige regverdiges is. Ongelukkig was daar géén. Sodom het gekies om “die merk in die pad te mis”, immoreel afvallig.
Hoe lees ek die verhaal van Sodom binne ons eie konteks? Met ’n Nuwe-Testamentiese bril en ook binne die groter konteks (Gen 17 – 19).
God se verbond met Abraham in Genesis 17:2 – “Ek sal my verbond met jou sluit en baie, baie mense uit jou laat voortkom” – herinner aan sy opdrag in die skeppingsverhaal: “word vrugbaar en vermeerder” (Gen 1:28).
Homoseksuele gedrag in Genesis 19 (selfs al dui dit net op verkragting binne ’n kultuur van militêre magsvertoon) is duidelik anti-skepping.
Wanneer Paulus in Romeine 1:20 en 26 “skeppingstaal” gebruik, verstaan hy heel waarskynlik ook die Ou-Testamentiese beeld van “anti-skepping”.
Ook Jesus haak by die skeppingsverhaal aan (Matt 19:4) en maak dit duidelik dat God man en vrou bymekaar voeg en dat hulle een sal wees. Paulus verduidelik in Efesiërs 5 dat die huwelik tussen man en vrou ’n diep geheimenis bevat. Dit versinnebeeld ’n diep, heilige verbintenis (soos God se verbond aan Abraham) tussen God en sy kerk (ons).
Die gevaar, myns insiens, is dat ons só in die debat oor selfdegeslagverhoudinge vasgevang word, dat ons dalk ook “die merk in die pad” kan mis.