Die verhaal van Sodom en Gomorra word dikwels in die gay-debat opgehaal. Hierby is twee uiteenlopende lesings van die verhaal. Reageer gerus hierop met briewe aan kerkbode@tydskrifte.co.za van hoogstens 300 woorde.
Lees ook Steve van der Walt se alternatiewe perspektief: Om die ‘merk in die pad’ te mis
Die Sodomverhaal bevat geensins die konteks van ’n homoseksuele oriëntasie of verhouding van dieselfde geslag mense in liefde en trou met mekaar nie. Dis ’n verhaal van homoseksuele verkragting. En dit is verkeerd (Gen 19:6-7), soos heteroseksuele verkragting, bloed-skande of bestialiteit verkeerd was.
[aesop_character img=”https://kerkbode.christians.co.za/wp-content/uploads/sites/2/2016/03/Dirk-Human.jpg” caption=”Prof Dirk Human is adjunk-dekaan van die Fakulteit Teologie aan die Universiteit van Pretoria en hoof van die Departement Ou Testament.” align=”right” width=”270px”]
In die antieke Nabye-Ooste, die wêreld van die Ou Testament, was eer en skande sterk sosiale waardes wat mense se gedrag bepaal het. Sekere optrede het mense eer aangedoen; ander dade het tot vernedering gelei.
Soos vandag is seksualiteit destyds as sosiale of politieke magsdaad gebruik. Die Sodomverhaal illustreer hoe mense met seksuele aggressie of verkragting ander se eer aantas en hulle tot skande verneder.
In ’n manlike en patriargaal-gedomineerde samelewing was dit vir ’n man ’n skande as hy die plek van ’n vrou in die openbaar inneem. Wanneer ’n man seksueel deur ’n ander man gepenetreer is, het die passiewe gepenetreerde man die rol van ’n vrou ingeneem.
Daardeur is iemand skandelik verneder, veral jou vyande. Hoe seks as magsmiddel tot skande gebruik is, word mooi geïllustreer in die Egiptiese godeverhaal van Isis, Osiris en Horus, met hulle oom Set.
In aansluiting by die voorbeeld van Abraham (Gen 18) oor gasvryheid teenoor vreemdelinge word Lot as ’n uiters gasvrye man geteken. Hy beskerm sy gaste deur hulle na sy huis te nooi en stel selfs later sy dogters seksueel tot die beskikking van die Sodomiete wat sy gaste wou verkrag.
Vandag is sulke seksuele gasvryheid iets ondenkbaar, maar destyds blykbaar aanvaarbaar. Lot tree lofwaardig op en was daarmee selfs bereid om die bruidskat van sy dogters, dus finansieel, te verloor. Daarom word hy en sy mense gered.
Die ‘verkeerde’ van die Sodomiete se optrede kom op vreemdelingehaat neer en die skending van die verbondsopdrag tot gasvryheid. Hulle wou Lot se gaste skandelik verneder met homoseksuele dade, soos Dina (Gen 34) en Tamar (1 Sam 13) weer met heteroseksuele dade onteer is.
Sulke seksuele dade (verkragting) is in enige konteks onaanvaarbaar, maar is nie gelykstaande aan dit wat ons vandag onder ’n homoseksuele verhouding van liefde en trou verstaan nie. Parallelle verhale is die een van Noag en sy seun (Gen 9:20-24) asook die grusame storie van die Benjaminiete met die Leviet en sy byvrou (Rigt 19).
Nêrens in die Bybel word Sodom se verkeerde dade gekoppel aan homoseksualiteit nie. Sodom is of ’n simbool van oordeel of die skender van die gasvryheidsvoorskrif.
Die ‘verkeerde’ kan insluit die verdrukking van minderheidsgroepe (Jes 1:10-31), sosiale ongeregtigheid (Jer 23:14), en die verwaarlosing van armes en noodlydendes (Eseg 16:49). In die Nuwe Testament word Sodom verbind aan die oordeel oor ongasvryheid (Luk 10:12 ea; 2 Pet 2:7) of die aanmoediging tot gasvryheid (Heb 13:2).
Uit sy literêre en sosiohistoriese kontekste is dit duidelik dat die Sodomverhaal oor homoseksuele verkragting handel, en nie gebruik kan word om die afwysing van homoseksuele verhoudings, soos ons dit vandag verstaan, Bybels of teologies te begrond nie. Dit geld eweneens vir die tekste uit Levitikus (18:22 en 20:13) en Rigters 19.