Vroegjaar beteken vir my twee dinge: goeie flieks en die Oscars! Hierdie jaar het nie teleurgestel nie. Goeie filmwerk, goeie akteurwerk en briljante stories was aan die orde van die dag. Die fliek wat met die groot louere weggestap het – die “Academy Award for Best Picture” – is ’n moet-kykprent, Spotlight. Dis die ware verhaal oor ’n spesialisjoernalistegroep by die Amerikaanse koerant, The Boston Globe, wat in 2001 ’n massiewe skandaal oor kindermolestering in die Katolieke Kerk oopgekrap het.

Aanvanklik het dit net oor een storie gegaan, maar ná dieper ondersoek het dit vir die joernaliste duidelik geword dat daar ’n patroon is van seksuele kindermishandeling deur verskillende Katolieke priesters en wat deur die mense in die topstruktuur van die kerk toegesmeer is. Die uiteinde van die Boston Globe se ondersoek was die ontdekking dat ongeveer 90 priesters net in die Boston-area hulle aan kindermolestering skuldig gemaak het.
Hierdie storie is deur die koerant ná ’n lang ondersoek, diepe navorsing en intense wroeging in 2002 gepubliseer waarna baie meer soortgelyke stories aan die lig gekom het. ’n Treffende en ontstellende deel van die fliek kom aan die einde: ’n lys van plekke wêreldwyd waarby die Katolieke Kerk betrokke was en probeer het om gevalle van kindermolestering te begrawe.
Hierdie fliek wys dat die kerk onder geen omstandighede stories van seer, skande, mishandeling en bedrieglikheid onder die mat mag vee omdat dit kwansuis ’n groter doel dien of die kerk sodoende sou “beskerm” nie. Spotlight wys dat deursigtigheid, opregtheid en barmhartigheid waardes is wat op die ou end moet seëvier!
▶ Prop Fralene van Zyl is verbonde aan die NG gemeente Roodekrans.
Kantaantekening
Verskeie rolprentresensente beskou die Suid-Afrikaanse fliek, Sink, as ’n meesterstuk wat volpunte verdien. En dit is inderdaad ’n baie goeie fliek: uitstekende kamerawerk, goeie en sensitiewe karakteruitbeelding, ’n puik storie … Maar nee, dis juis by die storie se slot dat die fout lê. Die verhaal gaan oor skuld, vergifnis en versoening. Maar van laasgenoemde twee kom op die ou end alte min tereg en ’n mens verlaat die fliek met ’n nare leë gevoel. In die storie is die wit vrou wat haar swart huishulp se dogtertjie dié dag moet oppas, met ’n belangrike telefoonoproep besig (sy hoor van die dokter dat sy swanger is) as die dogtertjie, Maja, in die rykmanswembad verdrink. Die ondraaglike skuldgevoel van die vrou en die verskriklike smart van die huishulp, word absoluut aangrypend uitgebeeld. Maar ’n wonderlike kans om vergifnis en versoening sigbaar te maak, gaan verlore as die draaiboekskrywer nie besef dat die wit ouerpaar, oorstelp van vreugde ná die geboorte van hulle dogtertjie, die kindjie – wat die huishulp deur ’n sameloop van omstandighede boonop in die wêreld help bring het – na Maja moes vernoem het nie … – FMG