Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

‘Spotlight’ is ’n moet-sien

Vroegjaar beteken vir my twee dinge: goeie flieks en die Oscars! Hierdie jaar het nie teleurgestel nie. Goeie filmwerk, goeie akteurwerk en briljante stories was aan die orde van die dag. Die fliek wat met die groot louere weggestap het – die “Academy Award for Best Picture” – is ’n moet-kykprent, Spotlight. Dis die ware verhaal oor ’n spesialisjoernalistegroep by die Amerikaanse koerant, The Boston Globe, wat in 2001 ’n massiewe skandaal oor kindermoleste­ring in die Katolieke Kerk oopgekrap het.

20104185723_0ca6c3e963_o

Aanvanklik het dit net oor een storie gegaan, maar ná dieper ondersoek het dit vir die joernaliste duidelik geword dat daar ’n patroon is van seksuele kindermishandeling deur verskillende Katolieke priesters en wat deur die mense in die topstruktuur van die kerk toege­smeer is. Die uiteinde van die Boston Globe se ondersoek was die ontdekking dat ongeveer 90 priesters net in die Boston-area hulle aan kindermolestering skuldig gemaak het.

Hierdie storie is deur die koerant ná ’n lang ondersoek, diepe navorsing en intense wroeging in 2002 gepubliseer waarna baie meer soortgelyke stories aan die lig gekom het. ’n Treffende en ontstellende deel van die fliek kom aan die einde: ’n lys van plekke wêreldwyd waarby die Katolieke Kerk betrokke was en probeer het om gevalle van kindermolestering te begrawe.

Hierdie fliek wys dat die kerk onder geen omstandighede stories van seer, skande, mishandeling en bedrieglikheid onder die mat mag vee omdat dit kwansuis ’n groter doel dien of die kerk sodoende sou “beskerm” nie. Spotlight wys dat deursigtigheid, opregtheid en barmhartigheid waardes is wat op die ou end moet seëvier!

▶ Prop Fralene van Zyl is verbonde aan die NG gemeente Roodekrans.


 

Kantaantekening

ss_cinema_poster_v1Verskeie rolprentresensente beskou die Suid-Afrikaanse fliek, Sink, as ’n meesterstuk wat volpunte verdien. En dit is inderdaad ’n baie goeie fliek: uitstekende kamerawerk, goeie en sensitiewe karakteruitbeelding, ’n puik storie … Maar nee, dis juis by die storie se slot dat die fout lê. Die verhaal gaan oor skuld, vergifnis en versoening. Maar van laasgenoemde twee kom op die ou end alte min tereg en ’n mens verlaat die fliek met ’n nare leë gevoel. In die storie is die wit vrou wat haar swart huishulp se dogtertjie dié dag moet oppas, met ’n belangrike telefoonoproep besig (sy hoor van die dokter dat sy swanger is) as die dogtertjie, Maja, in die rykmanswembad verdrink. Die ondraaglike skuldgevoel van die vrou en die verskriklike smart van die huishulp, word absoluut aangrypend uitgebeeld. Maar ’n wonderlike kans om vergifnis en versoening sigbaar te maak, gaan verlore as die draaiboekskrywer nie besef dat die wit ouerpaar, oorstelp van vreugde ná die geboorte van hulle dogtertjie, die kindjie – wat die huishulp deur ’n sameloop van omstandighede boonop in die wêreld help bring het – na Maja moes vernoem het nie … – FMG

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top