Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.
Onlangs bestuur ek op ’n Natalse plaaspad, op pad na my goeie vriendin. Orals oor die groen bulte staan daar verskillende soorte bome. Party groot, ander maar klein. Daar staan egter een boom, nie ver van die pad af nie. Hierdie boom is nie juis groot of indrukwekkend nie, maar gooi skadu tot in die pad.
My gedagtes dwaal na Psalm 1 se eerste drie verse waar ’n gelowige vergelyk word met ’n boom wat geplant is by waterstrome, wat vrug dra en waarvan die blare nie verdroog nie.
Die psalm en die groen bome om my laat my wonder: Watter voëls en insekte rus en woon daar?
Dit laat my dink aan hoe gelowiges eintlik moet wees. Vir wie bied ons rusplek? Net vir dié met wie ons gemaklik is, of bied ons vir persone wat “anders” is as ons ’n veilige ruimte en genesing van die wêreld se seer? Voed ons “vrugte” ons gemeenskap?
Dikwels, dink ek, sien ons net die groot bome, wat dalk ’n beeld is van die gemeentes van vandag.
Dikwels sien ons nie onsself as ’n boom nie. Ons elkeen is ’n boom, geplant op ’n spesifieke plek waar ons kan dien.
In Psalm 1 gaan dit verder oor die waterstrome. As ek dink aan hierdie bome, dink ek aan die voetpad waarop ons perd ry, en tussen die bome loop ’n waterstroom. Dikwels sal my vriendin se perd lank hier staan en water drink voor sy verder stap.
Hierdie selfde waterstroom mond uit in ’n dam waar kolganse woon. As dit egter warm is, kom rus hierdie kolganse dikwels onder die bome en verras ons, omdat ons hulle nie daar verwag het nie!
Net so kan ons dikwels verras word deur die persone wat in ons koelte of takke skuil. Dikwels kan dit ongemaklik wees om ander te dien, wat anders is as ons. Ons vrees dat hulle ons kan beïnvloed.
Net soos ’n boom wat wortels het, is ons gewortel in God. Ons geloof hou ons staande en God het alle mense gemaak. God is die lewende water wat ons as bome voed en ons siele rus gee.
Ons kan klein maar sterk boompies wees wat groei in tyd en geloof, of ons kan ’n Jona-boom wees wat opgevreet word deur die eerste wurm. Net so moet ons as gelowige boompies blare van genesing wees en vrug dra waar ons is. Elkeen uniek in God se beeld.