Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Dr Lectus Steenkamp van Kaapstad skryf:
My gereformeerde en behoudende hart was bly toe ek dr Chris van Wyk se artikel (Kerkbode, 15 April, “Paulus draai nie doekies om nie”) oor Paulus se woorde in Romeine 1:18-23 gelees het.
Onversag stel hy dit en sê dat Paulus selfdegeslag-seksuele gedrag afkeur. Hy haal Rosaria Butterfield aan wat sê dat sy deur Romeine 1 aangespreek is om haar selfdegeslagverhoudingslewe te versaak: “At a certain point, I realized that the Bible was God’s Word, and it had the right to condemn me, and not the other way round.”
Dis verblydend dat vir hom die bedoeling van die skrywer van die teks, naamlik Paulus, nog deurslaggewend is en nie die leser wat dit bepaal nie. In dié verband sê prof J Janse van Rensburg in sy boek In gesprek met die kerk dat volgens die post-moderne taalfilosofie die leser die enigste interpreteerder van die teks is.
Slagspreuke soos “Daar is niks buite die teks nie” en “Die outeur is dood” beklemtoon dat selfs die bedoeling van die skrywer van die teks nie meer saak maak nie.
Vir dr van Wyk is die bedoeling van die skrywer egter primêr in die verklaring van die teks, en nie dit wat vir die post-moderne leser aanvaarbaar op die oor val nie. Ek stem saam met hom as hy sê (na aanleiding van Rom 1:18-32) dat Paulus selfdegeslaggedrag konsekwent afwys. Dit is skokkend radikaal en absoluut.
’n Mens wens amper Paulus was verkeerd, of dat ons vandag die woorde kan ignoreer. Vir ’n kerk wat die Bybel as Woord van God aanvaar, is dit egter onmoontlik.
Met reg sê hy dat ons geen gelowige mens wat ’n selfdegeslagaantrekkingskrag beleef, uit die geloofsgemeenskap kan uitsluit nie. Ja, niemand word versaak nie, maar so ook nie die boodskap van die Bybel nie.
Lesers kan briewe rig aan Die Redakteur, Kerkbode en dit na kerkbode@tydskrifte.co.za stuur. Korter briewe, verkieslik nie langer as 300 woorde nie, geniet voorkeur by plasing. Briewe sal redaksioneel versorg word en kan ook verkort word.
