Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

NG Kerk gaan baie dominees nodig hê

Die NG Kerk sal baie meer predikante moet oplei om in toekomstige behoeftes te voorsien. Meer as 50% van die leraars van die NG Kerk gaan oor die volgende 15 jaar aftree.

Dit is een van die kwessies wat onlangs bespreek is in gesprekke wat ds Nelis Janse van Rensburg, voorsitter van die Algemene Sinodale Moderamen, en dr Gustav Claassen, algemene sekretaris, gevoer het met die Algemene Kuratorium en met dosente van die NG Kerk wat predikante help oplei.

Dit is nou van groot belang dat ons leraars en gemeenteleiers tieners in byvoorbeeld belydenisklasse sal bewus maak van die moontlikheid van loopbane in die kerk en veral van ’n loopbaan as predikant in die kerk.

Janse van Rensburg sê dat as jongmense ’n loopbaan wil volg met die oog daarop om ’n verskil te maak in die wêreld en in mense se lewe, bied die NG Kerk uitstekende geleenthede. Daar word ook baie goeie finansiële ondersteuning aan teologiese studente gebied.

Teologiese opleiding sal in oorstemming met die beleid oor teologiese opleiding wat die Algemene Sinode in 2013 aanvaar het, in vier bane geskied. Hierdie verbreding word onder meer gedoen met die oog op die gestuurdheid van die kerk. Daar sal opleiding gegee word aan:

  • Ouderlinge met die oog op preekbevoegdheid;
  • Persone wat as kerklike werkers kerklike beroepe wil volg soos jeugwerk, kerkplanting, berading en gemeenskapsontwikkeling;
  • Persone wat deeltyds (nie-residensieel) studeer om predikante te word; en
  • Persone wat voltyds studeer om predikante te word.

Daar word nou hard gewerk om aan elkeen van hierdie bane praktiese beslag te gee. Die ontwikkeling van meersoortige loopbane in die kerk gaan aan gelowiges opwindende moontlikhede bied om op vele maniere amptelik werksaam te wees in diens van die kerk.

Die Algemene Kuratorium het ook goedgekeur dat die Hugenote Kollege in Wellington geakkrediteer word as sentrum vir teologiese opleiding onder toesig van die kuratorium van die Wes-Kaap om aanvullende loopbane in die kerk se opleiding te help behartig.

Die NG Kerk het ’n program vir geloofsvorming wat naas die akademiese program wat ’n student aan ’n teologiese fakulteit volg, gevolg moet word met die oog op legitimasie.

Daar word ook by die fakulteite voorsiening gemaak vir aanvullende eie-kerklike kursusse as deel van die akademiese program. Die kerk se samewerking met die onderskeie fakulteite is tans baie goed.

Janse van Rensburg sê die studente wat nou gelegitimeer word, is baie goed toegerus en lewer uitstekende ­diens in die kerk en moedig gemeentes aan om hulle te oor­weeg vir beroepe.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top