Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Chris van Wyk van Somerstrand skryf:
Ek stem saam dat die onderskeid in die gesprek oor selfdegeslagverbintenisse tussen ’n konfessionele lees en ’n historiese lees van die Bybel lê (“Só verskil die NG Kerk oor die Bybel, Kerkbode, 20 Mei”). Maar mense kan dié standpunt verkeerd verstaan, omdat albei eksegetiese lyne ’n sterk historiese komponent het.
Die werklike verskil is persone wat literêr-histories met die Bybel omgaan en dié wat dit histories-krities doen. Die een lyn werk met die Bybel as die Woord van God. Die ander lyn werk met die Bybel as die woorde oor God.
Die literêr-historiese lyn is sterk in die gereformeerde tradisie gewortel en gaan terug op die Antiocheense skool van interpretasie sowel as die leserperspektief van Augustinus. Baie word gemaak in dié eksegese van die verklaring en verstaan van die teks binne die konteks, kultuur en geskiedenis van daardie tyd.
Die histories-kritiese lyn is ’n baie meer resente ontwikkeling wat vanuit die skolastiese lees van die teks ’n kritiese intellektuele lees van die Bybel voorstaan wat die teks as sodanig bevraagteken, meestal ter wille van ’n eie agenda, eerder as ’n lees van die teks vanuit die verhouding met God. Daarom word vanuit hierdie lees van die Skrif dinge soos die maagdelike geboorte, wonderwerke, die opstanding en vele meer bevraagteken.
Die literêr-historiese lyn staan teenoor dié manier van lees. Die Hervormers het juis gekies om die skolastiek vaarwel te roep en terug te keer na ons Brondokument met die erkenning dat die gesag van die Bybel in die verklaring (eksegese) en verstaan (hermeneutiek) van die teks self lê.
Calvyn het hierdie metode ’n teologiese hermeneutiek genoem waarin die Bybel die stem van die lewende God is. Dit is die tradisie waarin ons kerk staan en die tradisie waarop ek my beroep in die gesprek oor selfdegeslagverhoudings.
Lesers kan briewe rig aan Die Redakteur, Kerkbode en dit na kerkbode@tydskrifte.co.za stuur. Korter briewe, verkieslik nie langer as 300 woorde nie, geniet voorkeur by plasing. Briewe sal redaksioneel versorg word en kan ook verkort word.
