Die debat oor verhoudinge tussen mense van dieselfde geslag, gaan oor mense. Watter rol behoort hulle stemme en hulle belewenisse in die debat te speel? Hierby is twee perspektiewe op die saak.
Lees ook ds Helgard Janse van Rensburg se perspektief: Bly by die waarheid – met liefde en deernis
In die spervuur van die gay-debat is die gay mense self. Oor hulle word daar vir dekades lank in die kerk, by Algemene Sinodes en in die pers gepraat. Dis hulle wat op lamppale en teen boomstamme koerantopskrifte oor uitsprake en standpunte oor hulleself lees. Die melaatses van die kerk.
Stories oor hoe hulle voor 1994 deur die polisie gejag is lê nog vlak in baie se geheues. Dikwels steek gay mense jare lank hul gay-geheim diep weg en probeer dan ’n dubbele lewe as ’n heteroseksuele persoon lei.
[aesop_character img=”https://kerkbode.christians.co.za/wp-content/uploads/sites/2/2016/07/Marietjie-v-L-sw.jpg” caption=”Dr Marietjie van Loggerenberg is ’n pastorale narratiewe terapeut en dosent aan Coram Deo, ’n pastorale sorg- en opleidingsentrum in Pretoria. Sy het die afgelope 15 jaar in talle gay mense se skoene geloop.” align=”right” width=”270px” force_circle=”off”]
Die vrees vir verwerping, die skaamte, die verlammende effek van die weet dat hulle nie goed genoeg vir die samelewing, hul ouers, die kerk en gevolglik ook vir God is nie, hou hulle geheim dig toe.
Dit verg baie energie wat dikwels met angs, en ’n gebrek aan lewenskwaliteit en menswaardigheid gepaardgaan. Die vrees vir stigmatisering, diskriminasie en uiteindelike verwerping keer dan dat gay mense, veral gay predikante, hulle oriëntasie bekend maak.
Tydens die Algemene Sinode van die NGK van 2015 is die besluit om die selibaatsvereiste vir gay predikante op te hef en toestemming tot ’n burgerlike verbintenis te verleen, met ’n byna tweederdemeerderheid goedgekeur. Dit het ’n bietjie hoop gebring, terwyl ’n versigtige optimisme onder die meeste gay mense begin posvat het.
Vir baie gay mense was die besluit egter byna te goed om waar te wees en veral gay predikante wou eers die spreekwoordelike kat uit die boom kyk voordat hulle sommer teenoor hul gemeentes as ’n gay predikant sou “uitkom”.
Vir sommige persone, soos die ma wie se gay seun reeds ’n paar jaar gelede selfdood gepleeg het, was die sinodebesluit te laat.
Die besluit was ook te laat vir die vrou wat na die sinodale besluit in my spreekkamer kom sit en huil het – eintlik was die huil soos ’n weeklag – omdat haar beste jare reeds verby was en sy maar met ’n man getrou het om normaal te probeer wees. Ook haar man se lewe is in ’n groot mate verwoes.
Soos talle ander is hulle ook reeds uit die NG Kerk uit.
Baie gay persone is na die besluit vol hoop en optimisme terug NG Kerk toe – net om weer deur die appèlle teleurgestel te word. Die appèlle het onberekenbare skade aan die proses om die vertroue van gay mense in die NG Kerk te herstel, gedoen.
Homofobiese aanvalle het toegeneem, soos byvoorbeeld ervaar deur ’n lesbiese paartjie op Menseregtedag. Hulle is na ’n rustige ete in ’n restaurant in die parkeerterrein deur manspersone gekoggel, later in hul motor agternagesit en met bierblikke gegooi, terwyl die mans skelwoorde oor lesbiërs uitgeskree het. Die twee vroue (vroeër twee gay predikante) was erg getraumatiseer.
In ’n meer koverte vorm van homofobie vertel ’n jong gay teologiestudent wat in ’n burgerlike verbintenis met sy lewensmaat is, dat sy kontrak as jeugleier na die appèlle vir 2016 by ’n gemeente gekanselleer is. Sonder rede. Net dat sy kontrak “gevries” is hangende die sinodale besluite ten opsigte van die appèlle. Weereens drome verpletter en ’n lewe “on hold”.
Maar daar is gelukkig ook vele ander verhale. Nie net die besluit nie, maar ook die appèlle het in ’n groot mate die onderwerp vir bespreking in gemeentes oopgemaak. Die bepaling in die besluit dat gemeentes self oor hul posisie kon besluit, het kerkrade genoop om inligting oor die gay-saak in te win.
Gespreksgeleenthede is in gemeentes gehou. Kundiges het geleentheid gehad om gewone lidmate te kom inlig. Sommige predikante en kerkrade en gemeentes het net eenvoudig voortgegaan om gay paartjies te verbind of om met predikante en gay-gemeentes saam te werk.
So huisves Skuilkransgemeente in Pretoria byvoorbeeld jaarliks die Reformerende (gay) Kerk se Kerssangfees, terwyl die Andrew Murraygemeente in Pretoria hul kerkgebou aan die gay-gemeente vir hul twee dienste op ’n Sondag beskikbaar stel.
In Februarie 2016 het ds Stefan Botha en ’n kerkraadslid van die Andrew Murraygemeente versoek om die eerste deel van ’n kerkraadsvergadering van die gay-kerk by te woon. Ons sewe het in ’n kring gesit.
Ds André Muller van die gay-kerk het geopen deur met God te praat. Sy praat het sy innige verbintenis met die Een met wie hy praat bekend gemaak. Oorkant ons vyf het ds Stefan en sy kerkraadslid gesit. Hulle het oogkontak met ons gemaak. Ons kon aan mekaar raak.
Ds Stefan se stem was bewoë toe hy woorde soos “jammer” en “pyn” en “vergifnis” geuiter het. Hy het voorbeelde van verwerping en uitsluiting genoem en so konteks aan die jammer gegee. Ek het woorde soos “saamwerk” en “deel word” en “een word” gehoor.
Ons volmaakte kring het soos ’n huweliksring geword: vir altyd. Hy het gesluit deur met God te praat. Hulle ken mekaar ook goed. Ons het gestaan en mekaar vasgehou. Ons menswaardiges het mekaar getroos. Vir my was dít evangelie. Insluiting. Liefde.
Kerkbode nooi sy lesers om deel te neem aan die debat deur briewe van hoogstens 300 woorde te skryf aan kerkbode@tydskrifte.co.za. Hou die briewe asseblief saaklik, sodat die debat bo die vlak van persoonlike aanvalle kan bly.