Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Bly by die waarheid – met liefde en deernis

Die debat oor verhoudinge tussen mense van dieselfde geslag, gaan oor mense. Watter rol behoort hulle stemme en hulle belewenisse in die debat te speel? Hierby is twee perspektiewe op die saak.

Lees ook dr Marietjie van Loggerenberg se perspektief: Verwerping en pyn … of insluiting en liefde


In die soeke na waarheid rakende selfdegeslag-aangetrokkenheid in die lig van die Woord, raak ons dikwels intens bewus van gay mense se belewenis van swaarkry. Dit lei tot die vraag: Hoe kan ons wat glo die Woord eis selibaatheid van mense met selfdegeslagaangetrokkenheid, daarop reageer en dié oortuiging positief kommunikeer?

Ed Shaw, predikant van Emmanuel City Centre in Bristol, Engeland, wat sedert puberteit selfdegeslagaan-getrokkenheid ervaar, maar wat uit oortuiging op grond van die Skrif gekies het om selibaat te wees, sê die Bybelse boodskap van selibaatheid sal baie meer geloofwaardig en aanvaarbaar wees indien die kerk foutiewe aannames kan erken en regstel. Hy wys op die volgende:

[aesop_character img=”https://kerkbode.christians.co.za/wp-content/uploads/sites/2/2016/05/Helgard-J-van-Rensburg2.jpg” caption=”Ds Helgard Janse van Rensburg is predikant van die NG gemeente Villiers en moderator van die Vrystaatse Sinode.” align=”right” width=”270px” force_circle=”off”]

“Jou identiteit is jou seksualiteit.”

Ons identiteit word nie gedefinieer deur ons seksualiteit nie, maar deur ons status in Christus. Nie ons geboorte nie, maar ons wedergeboorte bepaal wie ons is. Wat die gelowige gay persoon dus móét en wil hoor, is nie “jy is gay” nie, maar “jy is ’n kind van die Here”.

“’n Gesin bestaan uit ma, pa en kinders.”

Dit is reg dat klem gelê word op en gepreek word oor bloedfamilie, maar daar moet meer klem gelê word op geloofsfamilie. Jesus het gevra: “Wie is my moeder, en wie is my broers?”. Toe wys Hy na sy dissipels en sê: “Daar is my moeder en my broers! Elkeen wat die wil doen van my Vader wat in die hemel is, dié is my broer en my suster en my moeder” (Matt 12:48-50). Paulus noem Timoteus sy “geliefde seun” (2 Tim 1:2) en hy voel soos ’n ouer teenoor die gemeentes (1 Tess 2:1-12). Jesus gee die belofte van die ewige lewe aan almal wat bloedfamilieverhoudings ondergeskik stel aan Hom en die evangelie (Mark 10:29-31). Shaw getuig: “Wanneer die kerk soos familie voel, kom ek reg sonder om ooit ’n lewensmaat en kinders te hê”.

“As jy gay gebore is, kan dit nie verkeerd wees om gay te wees nie.”

Sonder om uitsluitsel te gee of ’n mens gay gebore word en of dit ontstaan vanweë ander faktore, lê Shaw daarop klem dat alle mense gebore word met ’n geneigdheid tot sonde. Ons bly egter soos Dawid verantwoordelik vir ons houdings en gedrag (Ps 51:5). Mense met selfdegeslag-aangetrokkenheid moet hoor dit is nie net húlle wat worstel met en verantwoordelikheid moet neem vir hulle sonde nie. Ons almal moet immers die wêreld versaak, ons ou natuur kruisig en godvrugtig lewe.

“As dit jou gelukkig maak, dan moet dit reg wees.”

Geluk (dikwels kortstondig) is een van die grootste dryfvere van ons tyd. Op soek na geluk neem ons dan na willekeur uit die Woord wat ons pas en verander selfs God om in te pas by ons begeertes. Ware geluk kan egter nie bepaal word deur die tydsgees of ons eie norme nie. Vreugde word ervaar in gehoorsaamheid aan die onderwysing, bevele en bepalinge van die Here (Ps 19:8-12). Die eiewillige skep van geluk lei van die vroegste tye af tot groot hartseer en ongeluk (Gen 3).

“Seks is waar ware intimiteit gevind word.”

Vir die Westerse wêreld is intimiteit gelyk aan seks. Shaw getuig uit persoonlike ondervinding dat intimiteit moontlik is in vriendskappe waar seks nie ter sprake is nie. Die kerk moet dus eerder help om innige Christelike vriendskappe te bevorder waarin vriende tyd maak vir mekaar en om ervarings te deel.

“Mans en vroue is gelyk.”

Mans en vroue is wel gelykwaardig, maar nie gelyk en daarom uitruilbaar nie. God het man en vrou gemaak, fisies en psigologies verskillend, hulle bymekaargebring in die huwelik en gebruik telkens die huwelik as beeld van die verhouding en liefde tussen Christus en sy gemeente – ’n verhouding wat volmaak sal wees met die bruilof van die Lam en sy bruid (Op 19).

“Godsvrug is heteroseksualiteit.”

Godsvrug lê nie in die eerste plek in ’n mens se seksualiteit nie, maar daarin dat ons al hoe meer op elke lewensterrein soos Jesus moet word – sy voorbeeld volg in liefde en gehoorsaamheid aan die wil van die Vader. Almal van ons moet in alles lewe soos volgelinge van Jesus (Rom 13:14).

“Om selibaat te wees, is nadelig.”

Shaw kom in opstand teen die idee dat daar fout is met jou as jy enkellopend is. Jesus en Paulus was selibaat. Enkellopendes het oor die eeue heen van die kosbaarste bydraes gemaak in die uitbreiding van God se koninkryk.

“Swaarkry (lyding) moet vermy word.”

Jesus het gekom om te ly. Hy het gesê: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis dra en My volg …” (Mark 8:34). Swaarkry is soms juis nodig (1 Pet 1:6vv). Weereens raak dit elke gelowige wetende dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet (Rom 8:28).

Ons is geroep om by die waarheid van die Woord te bly, nie hovaardig nie, maar met liefde en deernis.

▶ Ed Shaw is die skrywer van SAME-SEX ATTRACTION and the CHURCH: The surprising plausibility of the celibate life, uitgegee deur IVP Books, Downers Grove, Illinois.


Kerkbode nooi sy lesers om deel te neem aan die debat deur briewe van hoogstens 300 woorde te skryf aan kerkbode@tydskrifte.co.za. Hou die briewe asseblief saaklik, sodat die debat bo die vlak van persoonlike aanvalle kan bly.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top