Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Was Martin Luther ’n Jode-hater?

LIEFDE VOOR ISRAËL NADER BEKEKEN
Deur Steven Paas
Uitgegee deur
Brevier Uitgeverij, Kampen 2015
Resensie deur
Danie OKennedy


Het jy vrae oor die verhouding tussen Israel en die kerk van Jesus Christus? Is die Jode of die na-Bybelse Israel die uitverkore volk van God? Wonder jy oor die standpunt van Martin Luther oor die Jode?

Steven Paas is ’n invloedryke Nederlandse teoloog wat al talle boeke en artikels geskryf het waarin hy dié vrae behandel. In hierdie werk bou hy daarop voort.

Drie hoofstukke word aan die sienings van die kerkhervormer Martin Luther gewy omdat sy uitspra­ke oor Israel en die Jode deelnemers aan die debat be­wus­telik of onbewustelik beïnvloed het. In Luther se pamflet Von den Juden und ihren Lügen (ongeveer 1545) het hy onder andere geskryf dat die Jode se sinagoges en boeke verbrand moet word, hulle moenie op die straat of die markplein toegelaat word nie en hulle eiendom moet afgevat word. Paas staan krities teenoor sulke sienings van Luther, maar waarsku dat daar nie ’n “goedkoop” lyn getrek moet word van Luther na Hitler en die Nazi-vervolging van die Jode nie.

Steven Paas

Hy skryf: “Het teologisch testament van Luther, hoezeer doortrokken van menselijke zwakheid en zonde ook, heeft echter niets te maken met de door ideologisch racisme gedreven moordcampagnes in die 20ste eeuw of met het weer opkomende anti-semitisme in die 21ste eeuw” (bl 106).

Paas wys daarop dat daar tans geen duidelike onderskeid gemaak word tussen anti-Judaïsme en anti-semitisme of Jode-haat nie. Hy skryf dat toena­de­ring tot die Joodse mens “agter die gods­diens” ’n mis­sio­nêre opdrag van die kerk is, en beklemtoon dat Christen-wees en anti-semitisme ’n onversoenbare teen­stelling is. Hy beklemtoon dat die giftige bron van Jode-haat ongehoorsaamheid aan die lief­desgebod van Christus is. Volgens Paas bestaan “die ware Israel” uit sowel Jode as nie-Jode wat in Jesus Christus glo. Paas verwys na Paulus wat in sy brie­we te kenne gee dat nasionalisme, rasse­voorkeur en die oorwaar­de­ring van etiese afkoms produkte van die wettisisme is.

Paas sluit sy boek af met ’n ernstige oproep dat beide Judaïste en Jode-haters tot bekering moet kom. Wettisisme en haat moet gestop word deur die evangelie van vrye genade. God se genade is bedoel vir alle volke, insluitend die Jood­­se volk. Die evan­ge­lie-ver­kon­di­ging moet ge­­suiwer word van alle etnie­se en wet­tie­se “bij­­ge­­lui­den”.

Hierdie boek is ’n ui­ters waar­­­de­vol­­le bron vir diege­ne wat na­dink oor die ver­hou­­ding tussen die kerk van Chris­­tus en Israel of die Jo­de. En vir diegene wat be­­lang­­stel in Luther se stand­punt oor dié on­derwerp, is die lees van dié boek nood­saak­lik.

Dr Danie O’Kennedy is leraar van die Helderberg-gemeente in So­merset-Wes en deel­tydse do­sent in Ou Testa­ment aan die Universiteit Stellenbosch.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top