DUET: DAGSTUKKIES VIR HUWELIKSMAATS
Deur Johan en Christine Ferreira
Uitgegee deur Lux Verbi, 2015
Resensie deur Pieter van Niekerk
Die skryweregpaar Johan en Christine Ferreira het saamgespan en ’n goed deurleefde dagstukkieboek die lig laat sien. Christine is die redakteur van Lééf en Johan praktiseer as voorligtingsielkundige. Hulle beroepservaring dra by tot die kwaliteit van die dagstukkieboek, maar dit is veral hulle saamwees as huweliksmaats wat in Duet uitstaan.

Die voorwoord is deur die bekende lewensafrigteregpaar Willem en Joke Nicol geskryf. Hierin nooi hulle die lesers uit: “Lees gerus elke dag Christine en Johan se padwysers vir eenheid in die huwelik en met God. Jy sal keer op keer nuwe vensters oopmaak om God se liefde vir die huis van jou lewe te sien.”
Duet is myns insiens veral op egpare in die hoë middelklas gerig. Die skrywers se welvarende lewenskonteks kom duidelik na vore. Dié dagstukkieboek is waarskynlik in die regte prysklas vir die spesifieke teikenmark. Maar dit beteken nie dat die skrywers onsensitief is oor arm mense en diegene in nood nie. Inteendeel, hulle sensitiwiteit vir andere is dikwels duidelik.
Hierdie boek bestaan letterlik uit dagstukkies, met ander woorde: kort en kragtige leesbrokkies vir besige en volprogram-lesers. Elke dagstukkie het ’n opskrif wat die tema van die dag verwoord, en ’n teksvers. Daarna volg ’n persoonlike verhaaltjie of insident in die lewe van een van die skrywers, of ’n praktiese gedagte of brokkie wysheid wat die tema belig. Die dagstukkie eindig met ’n sin of twee in kursief gedruk wat die leser vir die dag kan saamneem, en ’n gebed.
Christine en Johan help om lewensmaats ook geloofsmaats te maak. Ek kan Duet aanbeveel.
▶ Dr Pieter van Niekerk is navorsingsgenoot van die Teologiese Fakulteit, Universiteit Stellenbosch.