Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Boeiende fliek oor godsdiens in die skool

GODS NOT DEAD 2
’n Produksie van Pureflix

Met Melissa Joan Hart, Jesse Metcalfe, David AR White


In die ou dae het godsdienstige rolprente groot kerksaalgehore getrek. Onthou jy Carfo se Kyk, ek sal opstaan en Die hele dorp weet? Dis lankal nie meer so nie. En as ’n openlik-Christelike fliek soms wel op die kringloop in “gewone” fliekteaters vertoon word, is resensente dikwels by voorbaat sinies en af­wysend daaroor. Maar God’s not dead 2 moet die uitsondering op dié reël wees. Dis ’n goedgemaakte rolprent met ’n sterk storie en goeie akteurs wat ’n uiters aktuele onderwerp (juis ook vir Suid-Afrika) aanpak: godsdiens in die skool.

God's not dead 2

In die VSA, waar hierdie fliek gemaak is, is die skeiding tussen kerk en staat ’n belangrike saak, en gods­diensbeoefening word nie in staatskole toegelaat nie. Dié fliek vertel die verhaal van ’n onderwyseres wat in haar geskiedenisklas in antwoord op die vraag van ’n leerder na Jesus en sy leer verwys. Dit veroorsaak ’n groot herrie en uiteindelik ’n hofsaak waarin die vraag gestel word of Jesus inderdaad ook as ’n historie­se figuur aanvaar moet word aan wie se sieninge – soos aan Gandhi of Martin Luther King jr s’n – die skool aandag moet gee. 

Hofdramas bied dikwels goeie en boeiende kykstof, en hier is dit ook die geval. Die advokate probeer op allerlei maniere om die jurie van hulle saak te oortuig. Enersyds word betoog dat geen godsdiens op enige manier binne die klaskamer toegelaat mag word nie. Andersyds, dat daar wel ’n plek vir godsdiens moet wees – juis ook omdat dit ’n wesenlike deel van die men­segeskiedenis uitmaak. Daar is teen die einde ’n verrassende wending in die hofsaak.

In ons land is die kwessie van godsdiens in die skool – en hoe daar vir die verskillende godsdiensoortuigings van leerders plek gemaak moet word – tans ook in die kollig met die hof wat binnekort daaroor genader gaan word. Ek meen dié fliek gee hieroor heelwat stof tot nadenke. Dis ’n fliek wat ’n bepaalde boodskap wil oordra, maar nie op so ’n pedantiese manier dat dit by baie mense eerder teësin uitlok nie – soos dalk die geval was met sy voorganger, God’s not dead 1. Inteendeel, hierdie rolprent sê iets waaroor gelowiges én ongelowiges weer ’n keer kan nadink.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top