GOD’S NOT DEAD 2
’n Produksie van Pureflix
Met Melissa Joan Hart, Jesse Metcalfe, David AR White
In die “ou dae“ het godsdienstige rolprente groot kerksaalgehore getrek. Onthou jy Carfo se Kyk, ek sal opstaan en Die hele dorp weet? Dis lankal nie meer so nie. En as ’n openlik-Christelike fliek soms wel op die kringloop in “gewone” fliekteaters vertoon word, is resensente dikwels by voorbaat sinies en afwysend daaroor. Maar God’s not dead 2 moet die uitsondering op dié reël wees. Dis ’n goedgemaakte rolprent met ’n sterk storie en goeie akteurs wat ’n uiters aktuele onderwerp (juis ook vir Suid-Afrika) aanpak: godsdiens in die skool.

In die VSA, waar hierdie fliek gemaak is, is die skeiding tussen kerk en staat ’n belangrike saak, en godsdiensbeoefening word nie in staatskole toegelaat nie. Dié fliek vertel die verhaal van ’n onderwyseres wat in haar geskiedenisklas in antwoord op die vraag van ’n leerder na Jesus en sy leer verwys. Dit veroorsaak ’n groot herrie en uiteindelik ’n hofsaak waarin die vraag gestel word of Jesus inderdaad ook as ’n historiese figuur aanvaar moet word aan wie se sieninge – soos aan Gandhi of Martin Luther King jr s’n – die skool aandag moet gee.
Hofdramas bied dikwels goeie en boeiende kykstof, en hier is dit ook die geval. Die advokate probeer op allerlei maniere om die jurie van hulle saak te oortuig. Enersyds word betoog dat geen godsdiens op enige manier binne die klaskamer toegelaat mag word nie. Andersyds, dat daar wel ’n plek vir godsdiens moet wees – juis ook omdat dit ’n wesenlike deel van die mensegeskiedenis uitmaak. Daar is teen die einde ’n verrassende wending in die hofsaak.
In ons land is die kwessie van godsdiens in die skool – en hoe daar vir die verskillende godsdiensoortuigings van leerders plek gemaak moet word – tans ook in die kollig met die hof wat binnekort daaroor genader gaan word. Ek meen dié fliek gee hieroor heelwat stof tot nadenke. Dis ’n fliek wat ’n bepaalde boodskap wil oordra, maar nie op so ’n pedantiese manier dat dit by baie mense eerder teësin uitlok nie – soos dalk die geval was met sy voorganger, God’s not dead 1. Inteendeel, hierdie rolprent sê iets waaroor gelowiges én ongelowiges weer ’n keer kan nadink.