LAAT DAAR LIG WEES
Deur Gawie Pretorius
Uitgegee deur Cordis Trust-publikasies 2016
Resensie deur Frits Gaum
Gawie Pistorius is ’n emeritus-professor in Huisartskunde en was die stigtershoof van die Departement Huisartskunde aan die Universiteit van die Vrystaat. Hy is die seun van wyle ds en mev CWI Pistorius aan wie se nagedagtenis hy hierdie merkwaardige en mooi versorgde boek opdra.
Pistorius stel in sy boek baie vrae: Is God die Skepper van die heelal? Hoe lank het God geskep: ses dae of 14 miljard jaar? Evolusie of nie? Is ’n maagdelike geboorte moontlik? Het Jesus werklik na die hel neergedaal? Wat gebeur met jou liggaam en siel ná die dood? Waarom ondervind gelowiges lyding?
Die skrywer maak groot erns met die Bybel en wil sy vrae op ’n Bybelsverantwoorde manier beantwoord. So dui hy byvoorbeeld aan dat die idee van evolusie nie “onbybels” is nie, maar wel die manier kan wees waarop God geskep het en steeds voortgaan om te skep. Hy dui deur wiskundige berekeninge aan dat die wetenskap (en dus die mens) nie iets uit niks kan maak nie: “Die skeppingsboodskap is dus letterlik en figuurlik so duidelik soos daglig. Slegs God kan iets uit niks maak. Slegs God kan uit ’n nul ’n oneindigheid skep. Die menslike verstand begin eers ná nul en eindig lank voor oneindigheid” (bl 26).
Interessant is die huisarts-professor se mening oor die maagdelike geboorte van Jesus – iets wat vir baie hedendaagse teoloë onaanvaarbaar is. Pistorius skryf dat die biologiese beginsel van aseksuele voortplanting in die skepping bestaan. Dit gebeur by partenogenese wanneer ’n vrou swanger kan raak sonder manlike bevrugting. “Met hierdie gedagtes probeer ek geensins om ’n wetenskaplike verduideliking te gee van presies hoe Jesus se maagdelike geboorte plaasgevind het nie,” skryf Pistorius. “Ek probeer net sê dat God al die moontlikhede van sy eie skepping tot sy beskikking gehad het om Jesus se maagdelike geboorte te bewerkstellig” (bl 51).
Nie al Pistorius se verklarings sal almal oortuig nie. Hy wend hom dikwels tot die geskrifte van ouer Afrikaanse teoloë (soos prof Jac J Müller) om sy sieninge te staaf, of na dié van meer fundamentalistiese skrywers (soos dr Isak Burger). Sy boek is egter die moeite werd om te lees, juis omdat hier ’n diep gelowige mens met heelwat wetenskaplike kennis aan die woord is wat wil luister na wat God régtig in en deur sy Woord vir ons wil sê. Ek het baie waardering vir sy boek – en ook vir Cordis Trust wat dit gepubliseer het.