FONTEIN VAN LEWENDE WATER – DIE VERHAAL VAN DIE NG GEMEENTE KURUMAN, 1916-2016
Deur Gerdrie van der Merwe
Uitgegee deur Merwede-uitgewers, 2016
Vroeër vanjaar is ’n spesiale Andrew Murray-toekenning aan dr Gerdrie van der Merwe gemaak vir sy bydrae tot die kerklike geskiedskrywing. In die oorkonde wat toe aan hom oorhandig is, word hy “die kroniekskrywer van NG Kerk-gemeentes” genoem. En met reg. Uit sy pen het daar reeds meer as 50 boeke oor die verhale van gemeentes van die NG Kerk verskyn: altyd kleurvol met goeie foto’s, in ’n lekkerlees-skryfstyl en met ’n goeie relaas van die wel en wee van gemeentes.

Fontein van lewende water, oor Kuruman-gemeente se eerste honderd jaar, pas baie goed in hierdie patroon. Dis ’n boek met talle en talle foto’s, gedruk op goeie kunspapier, en dit gee ’n boeiende blik op Kuruman se soms stormagtige, maar ook dikwels sonnige geskiedenis. Van der Merwe, wat self 16 jaar predikant van Kuruman was, vertel graag en uitgebreid van die goeie dinge in die gemeenteverhaal, maar skram nie daarvan weg om ook eerlik verslag te doen van die minder goeie wat, onvermydelik en ongevraagd, soms in ’n gemeente se storie opduik nie.
Daar kan nie twyfel wees dat Gerdrie van der Merwe ’n waardevolle diens aan die kerk bewys deur sy noukeurige optekening van gemeentes se verhale nie. Soos ook met sy jarelange In Memoriam-rubriek in Die Jaarboek van die NG Kerke, waar hy sorg dat predikante se lewensverhale nie sonder meer in die vergetelheid verdwyn nie, lewer hy ’n bydrae wat nie onderskat mag word nie.
En, ja, hartlik geluk aan Kuruman-gemeente wat al ’n eeu lank in daardie deel van ons land die lig van die evangelie van Jesus Christus laat skyn! – Frits Gaum (leraar van Kuruman, 1966-1969).
