Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Willem Nicol vertel van stilword-met-luister … en stil word

OOP VIR DIE OOMBLIK – NADER AAN DIE HIER EN NOU MET DIE HERE
Deur Willem Nicol
Uitgegee deur Bybelkor, 2016
Resensie deur Frits Gaum


Dr Willem Nicol is, ná Andrew Murray, seker die teoloog-skrywer wat die meeste in diepte-aandag aan Christelike meditasie in gereformeerde kringe gegee het. In werke soos Stem in die stilte, Naby Jesus, Gebed van die hart en In die hande van die Pottebakker skryf hy oor persoonlike spirituali­teit en dui die waarde en betekenis van stil-word-met-die-Here aan. In sy nuwe werk brei hy verder daarop uit.

Hy skryf dat dit op die oomblik gewild is om aan­dag te gee aan wat deur die loop van die dag in ons bewussyn gebeur. Ons vra ons af hoe afwesig of teenwoordig ons vir die hier en die nou is. Ons praat oor “leef in die oomblik”, “leef bewustelik”, “awareness” en “mindfulness”.

Die diepte-dimensie van elke oomblik is in werklikheid die teenwoordigheid van die Ewige Een, skryf hy. Die doel van sy boek is dan om hierdie teenwoordig-leef en teenwoordig-wees op ’n Bybelse grondslag te ontvou.

In Deel 1 van die boek gesels Nicol oor die informele kant van “oop wees vir die oomblik”, dit wil sê, hoe dit deur die loop van die dag kan gebeur: “Waaroor praat ons?”; “Die geraas in my kop kom tussen my en die huidige oomblik”; “Die hele aarde is vol van sy magtige teenwoordigheid!”; “… Vrede met God”.

OopVirDieOomblik-Fr.Cov.inddDeel 2 handel oor die formele kant, oor die tyd wat ons opsy sit om stil te word met die Here. Nicol skryf hier baie prakties oor die plek waar ons stiltetyd hou, ons “liggaamlike voorbereiding” (Hoe sit ons? Waarop sit ons? Hoe voel my voete waar hulle rus? Is daar spiere in my liggaam wat pla? Hoe kan ek van kop tot tone ontspan?). Hy gee aandag aan hoe ek Bybellees in my stiltetyd benader: Gaan ek die Bybel boek vir boek deurwerk? Of van ’n Leesrooster gebruik maak? Of dalk van ’n Bybeldagboek?

En dan kom dit by my “praat met God”: God wat praat, ek wat luister, ek wat praat, God wat luister … As ek Bybel lees, moet ek kans gee dat, wat ek lees, kan insink. Hier help dit soms om ’n papier byderhand te hou en ’n paar woorde neer te skryf, of ’n skets te maak en te kyk waarheen dit my lei.

Nicol deel ook gedagtes oor hoe stilword in groepe hanteer kan word. Hy skryf dat dit ’n goeie ritme is om sover moontlik elke dag op jou eie en een keer per week saam met ander stil te word. “Wanneer mense saam stil word, skep dit ’n atmosfeer wat dit dikwels vir die deelnemers makliker maak om in die stilte in te gaan en daar te bly.”

Oor die moontlike vrugte wat ons stilword kan oplewer, praat Nicol versigtig. 

“As ons hier verwagtings koester, staan ons met ons verwagtings in die Here se pad,” meen hy. “Hy weet wat Hy in ons lewe wil doen en dit sal dikwels baie anders wees as wat ons verwag. Ons verwagtings sal gewoonlik in ons gemaksone pas, terwyl die Here ons eintlik uit ons gemaksone wil wegneem.” Ons moenie ons spirituele “vordering” probeer meet nie. “Gooi jou GPS waarmee jy jou vordering wou meet in die see en laat die magtige pas­saatwinde jou skippie neem waar hulle wil,” sluit hy af.

Naas hierdie besonderse “handboek vir stilword voor en met God”, soos ek dit sal wil noem, het daar by Bybelkor ook ’n Bybelstudieboek verskyn wat hier­by aansluit met Bybelstudie vir 10 weke.

Willem Nicol se skryfwerk neem ’n eie plek in ons Christelike lektuur in. Hy gee leiding op ’n terrein wat vir elke Christen van wesenlike belang is: Hoe om my omgang met God so in te rig dat dit daagliks vir my ’n belewenis word wat diepte en sin aan my bestaan gee.

Die eerste hoofstuk van OOP VIR DIE OOMBLIK kan hier gelees word.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top