Verskillende planne vir verskillende mense wat op verskillende maniere in die kerk kan dien.
Dit is wat ’n mens kry in ’n memorandum van die algemene kuratorium oor die toekoms van teologiese opleiding in die NG Kerk wat aan die Algemene Sinodale Moderamen voorgehou is. Dit moet help voldoen aan die behoeftes van ’n kerk waarin sommige gemeentes nie meer voltydse dominees kan bekostig nie, terwyl ander dit nog wel kan doen.
Die voltydse residensiële opleiding van dominees soos die kerk dit oor baie jare ken, gaan steeds voort.
Daarbenewens moet die kerk voorsiening maak vir deeltydse opleiding van studente wat eers ’n ander loopbaan gevolg het, in baie gevalle reeds ’n gesin het vir wie gesorg moet word, maar dan ook die roeping kry om predikante te word.
Vir baie sulke mense was dit tot dusver onmoontlik om alles te los om jare lank teologie te gaan studeer. Die deeltydse studie wil vir hulle ’n kanaal oopmaak waardeur hulle, terwyl hulle steeds werk, hulle teologiestudie kan voltooi.
Die kuratorium stel ook voor dat die predikantsamp verruim word om ’n kategorie van hulpleraars in te sluit.
Die groep, na wie vroeër as “kerklike dienswerkers” verwys is, sal ’n korter teologiese opleiding deurloop. ’n Hulpleraar sal hom of haar op ’n spesifieke bedieningsveld toespits, soos familie en jeug, evangelisasie en kerkplanting, berading of gemeenskapsontwikkeling.
Hulle sal soos leraars gelegitimeer word en na gemeentes beroep word.
Vir gemeentes wat nie meer ’n predikant kan bekostig nie, moet daar ouderlinge opgelei word wat die bevoegdheid kry om eredienste te lei. Hierdie ouderlinge kry ’n beperkte opleiding wat oor naweke of saans gedoen kan word, en hulle werk onder die mentorskap van ’n leraar. Hierdie ouderlinge word nie betaal vir die diens wat hulle lewer nie.
