Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Isabel Ballot van La Montagne, Pretoria, skryf:
Die kerk het verskoning gevra vir apartheid, hy is op die voorpunt van die gay-debat, maar wat sê hy omtrent die afskuwelike praktyk van aborsie? Ons weet dat die kerk sterk daarteen gekant is, maar hoe dra sy dit aan die wêreld oor?
Die feit dat aborsie in Suid-Afrika wettig is, maak dit nie moreel regverdigbaar nie. Lewe gebeur by bevrugting. Dit is Godgegewe. In die pragtige Psalm 139 sê Dawid: U het my gevorm, my aanmekaar geweef in die skoot van my moeder, Ek wil U loof want U het my op ’n wonderbaarlike wyse geskep (vers 13 en 14). Lees tog hierdie psalm in sy geheel.
In The pregnancy and birth book van Tina Otte vertel sy die verhaal van die ontwikkeling van die embrio, wat tussen 11 en 13 weke van swangerskap die fetus genoem word. Sy noem die selverdeling in die eerste weke ’n “fantastic explosion of life”. Teen die einde van die 12 de week is al die organe volledig daar en ontwikkeling gaan voort. Is dit nie lewe nie?
Elke keer wat ek verby ’n plakkaat ry waar ’n aborsiekliniek naas ’n penisvergroting geadverteer word, voel ek naar. Hoe ontsettend goedkoop het ons lewe gemaak. Ek wil nie namens God praat nie, maar ek glo Hy haat aborsie. Solank ons met hierdie praktyk voortgaan, sal die Here ons nie seën nie. Ons as die kerk moet protesteer. Ons moet die wêreld bewus maak daarvan dat lewe duur is. Lewe is so duur en het soveel vir God beteken dat Jesus Christus sy lewe vir ons moes gee.
Lesers kan briewe rig aan Die Redakteur, Kerkbode en dit na kerkbode@tydskrifte.co.za stuur. Korter briewe, verkieslik nie langer as 300 woorde nie, geniet voorkeur by plasing. Briewe sal redaksioneel versorg word en kan ook verkort word.
