OP VLERKE VAN GELOOF – 366 OORDENKINGS VIR ’N VERVULLENDE LEWE IN
JESUS SE TEENWOORDIGHEID
Deur Riekert Botha
Uitgegee deur CUM, 2016
Resensie deur Frits Gaum
Riekert Botha is ’n tentmakerleraar en was voorheen leraar van die Baptiste-gemeente op Vredendal. Hy is die skrywer van die bekende Pleisters vir die siel-reeks. Hierdie dagboek handel by uitstek oor Jesus en wil die leser help om te verstaan wat dit beteken dat Hy die kern van ons geloof is.
Botha skryf dat Jesus “die lafenis en antwoord van ons lewe” is. “Hy is nie kerklik of godsdienstig nie. Hy steur Hom nie aan die geite en draadwerk van mense nie, maar is lief vir almal oor alle grense oor die eeue heen. Jesus is nie Afrikaans, Engels, Zoeloe of Chinees nie. Hy is Homself en vra niemand se toestemming of goedkeuring om na almal uit te reik en dié te red wat verlore gaan nie. Jesus is ’n ware fees!”
Die skrywer wil deur die dagstukke sy lesers help om Jesus nog beter te leer ken, “en te ervaar hoe jou geloof vlerke kry”. Die opskrifte van die dagstukke vertel hoe Botha dit wil doen: “Jesus en die predikant”, “Is ek ’n dissipel van Jesus?”, “Jesus het die prys volledig betaal”, “Antieke Jesus in ’n postmoderne wêreld”, “Hoekom genees Jesus nie alle mense nie?”
Riekert Botha beklemtoon ou waarhede en sy boodskap sal vir baie gelowiges versterkend wees. Ek is nie seker of hy voldoende aandag gee aan hedendaagse vrae rondom Jesus wat “postmoderne” mense – na wie hy ook verwys – sal help nie.
