Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Tienie Prinsloo van Heidelberg skryf:
Die hoofstroomkerke is besig om dood te bloei weens die verwaarlosing van die evangelie. Die rede waarom ek dit sê is te wyte aan die ondervinding wat ek opgedoen het oor 39 jaar as predikant in sewe gemeentes. Ek het by huisbesoek met elke lidmaat oor hul geloofslewe gesels om seker te maak of elkeen die plaasvervangende lyding van Jesus verstaan en Hom as Verlosser aangeneem het sonder om te verwag dat hulle ’n datum moet hê.
Dit het geblyk dat die aantal by wie alles reg was, by die verskillende gemeentes gewissel het tussen 10% en 30%. Die onsekeres was nie almal onverskillig nie, maar hulle was “soos skape sonder ’n herder”.
Ek vind steeds by berading met volwassenes en tieners dat 95% van almal gehelp moet word om Jesus aan te neem nadat God se verlossingsplan aan hulle verduidelik is. ’n 75 jarige lid van ons kerk het geantwoord, nadat ek hom op taktvolle wyse daaroor uitgevra het: “Dominee, dis die eerste keer in my lewe dat iemand my so iets vra!”
As ons wil hervorm, moet predikante meermale oor God se verlossingsplan preek en hierdie saak met huisbesoek – veral by die afwesige lidmate – gaan bespreek. Gemeentelede word deesdae genooi om te vra vir huisbesoek. Dit het nog nooit gewerk nie, want dit beteken dat die herder nie meer die “verlore skape” gaan soek nie, maar dat hulle self die “herder” moet roep om hulle te kom “red”.
Kategete moet opgelei word om die evangelie aan kinders een maal per jaar te verduidelik vanaf graad 1 tot met belydenisaflegging (2 Kor 5:21 en 1 Joh 5:11-13).
Dan behoort daar weer groei in gemeentes waargeneem te word.
Lesers kan briewe rig aan Die Redakteur, Kerkbode en dit na kerkbode@tydskrifte.co.za stuur. Korter briewe, verkieslik nie langer as 300 woorde nie, geniet voorkeur by plasing. Briewe sal redaksioneel versorg word en kan ook verkort word.
