Love, Henri: Letters on the spiritual life
Deur Henri JM Nouwen
Uitgegee deur Hodder & Stoughton, 2016
Resensie deur Laurie Gaum
Op 21 September is Henri Nouwen, Katolieke priester en teoloog, vanjaar 20 jaar gelede onverwags oorlede. Nouwen het met die 39 boeke wat hy geskryf het, ook in Suid-Afrika en onder NG Kerk-predikante invloed uitgeoefen. Nouwen se boeke is geskryf in sy kenmerkende styl wat die menslike toestand van angstigheid (die “grondgestemdheid” van die mens – Kierkegaard) en ’n soeke na konneksie, aangrypend verwoord. Ek is in my studentejare ook diepgaande deur Nouwen se spiritualiteit beïnvloed. In hierdie bundel van voorheen ongepubliseerde briewe wat Nouwen oor 22 jaar geskryf het, word sy oortuiging onderstreep dat, wat die mees persoonlike is, ook die mees universele is.
Terwyl Nouwen nooit sy homoseksualiteit in die openbaar erken het nie, blyk dit duidelik wanneer jy onder meer uit ’n gay perspektief na sy korrespondensie kyk. ’n Mens bespeur ’n onderliggende “geïnternaliseerde homofobie” wat so algemeen onder LGBTI- (lesbiese, gay, biseksuele, transgender-, interseks-) persone voorkom in ’n samelewing wat slegs heteroseksualiteit as die norm aanvaar en voorskryf. Nouwen se stryd om selfaanvaarding word duidelik wanneer dit teen hierdie agtergrond gelees word.
Nouwen het ook in sy lewe intens met depressie geworstel. Sy beklemtoning van ’n beweging van vrees na liefde, vind deurlopend in sy skryfwerk neerslag. Nouwen is by uitstek ’n pastor wat in sy akademiese werk ’n integrasie tussen die sielkunde en die pastoraat bewerkstellig het. Hy is veral ook gevoed deur die daaglikse eucharistie.
Uiteindelik word Nouwen weg van die akademie (eers by Yale en later Harvard) geroep en vind ’n tuiste by die L’Arche-gemeenskap in Kanada. Daar vind hy sin in sy fisieke diens aan en versorging van verstandelik-gestremde persone.
Hierdie briefboek bied ’n omvattende en intieme kyk in Nouwen se soms neurotiese “angst”, maar gee ook insig hoekom hy nog altyd in selfs evangeliese kringe so invloedryk is. Nouwen se lojaliteit aan die Katolieke Kerk is opvallend, maar is ook deel van sy probleem omdat dié kerk (steeds) ’n ongeïntegreerde seksuele etiek voorstaan. Dit bring mee dat, terwyl Nouwen diep kan “inspreek” in ervarings en situasies van pyn en lyding, hy nie by ’n plek van selfbevestiging en -vervulling kon uitkom nie.
Die weerloosheid wat saamgevat word in die titel van een van sy boeke, Wounded Healer, is nie in die instellings en strukture van sy tyd weerspieël nie. Kan dit verander met die “menslike” Franciskus as huidige pous van die Katolieke Kerk … en, nader tuis, die buitengewone Algemene Sinode van die NG Kerk wat in dié dae besluit of hulle dit gaan waag om oor die gay-Rubicon te trek?
Hierdie boek kan miskien die beste opgesom word in die woorde van Susan Groves: “Maybe when we’re closest to the wound, we’re also the closest to beauty. Perhaps the wound is the gift” (Cherishing the wound).
* Dr Riaan van der Merwe praat op 13 November om 17:30 in Rondebosch oor sy reis met Henri Nouwen. Kontak laurie@christianspirit.co.za vir meer inligting.
▶ Prop Laurie Gaum is verbonde aan die Sentrum vir Christelike Spiritualiteit.