Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Gay lidmate en mense in solidariteit met gay lidmate op die galery in hulle liefdeisliefde-hemde. Die huisreëls van die sinode het gereël dat afgevaardigdes nie sulke hemde dra nie en versoek dat besoekers hieraan sal gehoor gee. Toe die groep weier om dit te doen, het die moderator gereël dat dit nie afgedwing sal word nie. Foto: Neels Jackson

‘Ons is nie welkom nie’

Gay lidmate voel nie meer welkom in die NG Kerk nie.

Dit was die duidelike boodskap van ‘n groep gays wat die buitengewone Algemene Sinode van die NG Kerk bygewoon het, nadat die sinode besluite geneem het wat in belangrike opsigte lynreg verskil met dié van 2015.

Gay lidmate wat die sinode bygewoon het, was baie ontsteld.

Lulani Vermeulen het te kenne gegee dat sy bitter teleurgesteld is. “Die veilige ruimte wat die NG Kerk begin word het, is weg,” het sy gesê. “Hulle moet ophou verskoning vra, want dit beteken niks.”

Vermeulen het haar teologiestudie voltooi, maar is nie gelegitimeer nie, omdat sy nie wou onderneem dat sy selibaat sal bly nie.

Prop Hennie Pienaar het gesê hy hoor in die besluit dat gay mense sondig is, en dat hulle die keuse het om tot verlossing te kom. “As ons afstand doen van ons seksualiteit, is ons welkom. Dan is ons genees van ons sondes.”

Vir hom beteken dit dat gay mense nie welkom is in die NG Kerk nie. Dié boodskap sal hulle onder gay lidmate versprei.

“Die kerk is nie bereid om vir ons ‘n ruimte te skep om te wees wie ons is nie,” het hy gesê.

“Wie ons is as gay mense, bedreig die waardes van die kerk: die huwelik en gesin. Daarom is ons ‘n gevaar vir die kerk. Die kerk is nie ‘n ruimte waar ons kan wees nie,” het hy gesê.

“Ons sal vir (gay) mense moet sê ons moet ander ruimtes vind waar ons kan wees wie ons is tot eer van God. Ons sal ophou om die kerk te probeer oortuig dat ons saam aan die tafel moet sit. Ons sal ander tafels moet soek.”

Dr Marietjie van Loggerenberg, ‘n pastorale terapeut met honderde gay kliënte, het gesê die situasie is nou erger as in 2007. Toe het hulle nog hoop gehad. Nou is daar nie meer hoop nie.

Ds André Muller van die Reformerende Kerk het gesê hulle was nog nooit ten gunste van uitbreiding nie, want hulle het gehoop die NG Kerk sou ruimte bied vir gay lidmate. Nou sal hulle egter aktief begin om gemeentes vir gay lidmate op verskillende plekke te vestig.

Lees ook: Só verloop die sinode

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top