Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

APK kap na NG Kerk oor besluite

Die Afrikaanse Protestantse Kerk (APK) het in ‘n verklaring krities gereageer op die besluite van die NG Kerk se buitengewone Algemene Sinode wat verhoudinge tussen mense van dieselfde geslag raak. Die APK het in 1987 ontstaan nadat sowat 30 000 mense van die NG Kerk weggebreek het omdat hulle ontvrede was dat die NG Kerk gesê het hy is oop vir mense van alle rasse. Die volledige verklaring lui soos volg:


Die AP Kerk reageer met versigtigheid oor die NG Kerk se besluite oor selfdegeslagverhoudings soos geneem op sy buitengewone Algemene Sinode van 7 – 10 November 2016. Hierdie versigtigheid spruit veral vanuit die bewoording van 3.1 van die besluit wat lui dat (die kerk) altyd soekend moet bly na die waarheid van die evangelie tussen veelvuldige stemme en in ’n stukkende wêreld. Dit is kommerwekkend dat die postmodernistiese tydsgees só ’n houvas op ons gekry het, dat selfs die “waarheid van die evangelie” nie meer seker is nie, maar iets is waarna ons moet “soek”. Die “waarheid van die evangelie” is nie onduidelik oor hierdie saak nie. Dit lyk egter asof die NG Kerk die besluit weer eens so akkommoderend en gevolglik vaag as moontlik geformuleer het.

Aan die een kant kan die besluit geïnterpreteer word as ’n bevestiging van Bybelse waarhede in verband met seksualiteit en die huwelik. Hiervolgens word seksuele omgang tussen persone van die teenoorgestelde geslag beperk tot die huwelik as instelling van God tussen een man en een vrou. Enige seksuele verhouding van mense met dieselfde geslag, word dus hierdeur afgewys. Al word die realiteit van selfdegeslagverhoudings erken as ’n gegewe, word dit nie goedgekeur nie. Lidmate wat Christus bely (en gevolglik hulle sonde, ook die van homoseksualisme) kan as ongesensureerde lidmate tot die ampte toegelaat word.

Aan die ander kant kan die besluit ook geïnterpreteer word as ’n besluit wat steeds ruimte laat vir persone wat hulle seksualiteit binne ’n homoseksuele verhouding wil uitleef. Hoewel die huwelik as instelling tussen man en vrou herbevestig word, word homoseksualisme nêrens pertinent as sonde veroordeel nie. Na aanleiding van ds. Nelis Janse van Rensburg se verduideliking oor die betekenis van die besluit, is dit duidelik dat lidmate wat in selfdegeslagverhoudings staan, nie noodwendig onder sensuur geplaas sal word nie. “Gay” dominees sal ook nie die kansel geweier word nie. Al wat belangrik is, is dat hulle nie ’n seksuele verhouding buite die huwelik mag hê nie. Dit word ook bevestig deur 4.7 van die besluit wat lui dat enige iemand, ongeag seksuele oriëntasie, ‘n volwaardige lidmaat van die kerk is en as sodanig as ongesensureerde lidmaat volle toegang het tot al die ampte in die kerk. Die feit dat gemeentes wat anders voel self oor die saak kan besluit, laat ruimte vir gemeentes om hulle nie te hou by die 2016 besluit nie, maar in wese by die 2015-besluit te bly.

Indien eersgenoemde die korrekte interpretasie van die NG Kerk se besluit is en so deur gemeentes geïmplementeer gaan word, kan met groot dank van hierdie besluit kennis geneem word. Indien laasgenoemde interpretasie egter die korrekte is, soos blyk uit ds. Janse van Rensburg se verduideliking, laat dit die rooi ligte net nog helderder flikker. Dit sou beteken dat die enigste wesentlike veranderings tussen die 2015- en 2016-besluit is dat die kerk nou nie meer verbintenisse tussen persone van dieselfde geslag gaan behartig nie en dat ampsdraers met ’n aangetrokkenheid tot dieselfde geslag, selibaat moet bly, maar nie noodwendig hul sienings of aangetrokkenheid tot dieselfde geslag as sonde hoef te bely nie.

Hoewel die NG Kerk dit duidelik maak dat hulle skeuring ten alle koste wil verhoed, het die verdeeldheid wat hierdie saak veroorsaak die kerk só versplinter dat die NG Kerk in wese reeds verskeurd is. Om in naam een te wees, maar in belydenis oor kernsake lynreg teenoor mekaar te staan, maak ’n bespotting van die Christelike eenheid! Die vae bewoording van hierdie besluit, die onwilligheid om die sonde aan die kaak te stel en die huiwerigheid om die Skrif duidelik te laat spreek, gaan gelowiges meer skade berokken as goed doen.

Prof. I.A. Brink
Voorsitter van die Sentrale Kerkekomissie (SKK)

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top