Hoe skep gemeentes ruimte vir mense wat soms net ‘n bietjie anders is as die meeste ander mense? Ds Francois Lamprecht van die NG gemeente Pellissier in Bloemfontein vertel ‘n storie wat hom oor dié vraag laat wonder het.
Tydens ons onlangse Kerssangdiens was daar Kersliedere, oud en nuut, kinders wat God se lof besing en geskenke onder ‘n boom – as simbool van die tema: Jesus, die grootste Geskenk.
Daar was ook ‘n kitaarspeler wat ‘n dekade lank al diens doen in die gemeente. Oggend en aand speel hy waar hy benodig word. Twee keer ‘n week oefen hy aan die musiek by die kerk na sy agt ure werksdag, sommige weke drie keer.
Nederige ou. Altyd bereid om te help. Hy ry sommer goed aan met ‘n bakkie, bou saam aan die jeugbediening se dekor vir die jaarlikse jeugweek en help skottelgoed was waar nodig.
Hy is ook bekend by ‘n paar van die meer onbekende gesigte in ons gemeente – die ouens wat ná dienste opdaag in die aand met ‘n lang storie oor geen-geld-vir-die-taxi-nie of honger-geslaap-die-hele-naweek-al. Hulle kom soek hom al by die naam, want hy luister en hy help.
Maar hierdie oggend met die Kerssangdiens het hy ‘n groot fout gemaak – hy het sonder skoene, met ‘n kniebroek as deel van die musiekbedieningsgroep op die verhoog gestaan.
Dis nie my smaak nie. Ek hou van skoene – veral voor ‘n klomp ander mense.
Maar hy, hy trek selde skoene aan, soms nie eers in die winter nie (ek verstaan dit glad nie!). Maar ek ken hom so. Dit het vir hom niks met respek of smaak te doen nie. Hy is tuis in die kerk en opreg gemaklik met homself in sy God se teenwoordigheid.
Die meeste van die gemeente het dit seker nie eers gesien nie en heelwat wat dit gesien het sou doodrustig voortsing aan die volgende lied wat God se lof vir Jesus se geboorte besing.
Daar is mense vir wie dit vreemd was want hulle, soos ek, trek liewer skoene aan kerk toe. Daar is mense vir wie dit ‘n saak van respek is en wat ongemaklik was daarmee want hulle het nie so groot geword nie.
Van hulle het persoonlik of per epos kom dankie sê vir die diens en bygevoeg: “… maar wil die ou nie maar volgende keer skoene aantrek nie?”
Ek het baie waardering vir hulle. Dis mense wat op mooi maniere praat oor hul ongemak. Die meeste van ons lidmate is so: geduldige mense wat moeite doen om mense wat anders is, te aanvaar. Daar is baie sulke mense in die meeste gemeentes.
Maar daar is ook ‘n ander groep. Hulle was bitsig. Hulle het eposse en Facebook statusse geskryf wat hul woede uitspreek oor die onreg wat gepleeg is! Hulle maak grappies oor “…seker nie geld het vir skoene nie”. Hulle verwag optrede…
Hoe moet ek optree? “Jy moet vir hom leer hoe dit werk in die kerk.” Ek moet hom opvoed oor hoe Jesus se kerk werk.
Ek weet eerlik nie hoe om so ‘n gesprek te hê voordat ek nie eers vir dieselfde mense iets van verdraagsaamheid en respek vir verskille kan leer nie. Wat is die sin daarvan om lidmate op te voed oor kleredrag as ons nie kan opvoed oor geduld in die kerk nie … oor hulle lelike aanmerkings vir iemand wat “anders” is of lyk nie?
Hoe verstaan ons God se teenwoordigheid in ‘n erediens as iemand anders se skoene (of tekort daaraan) so ‘n oorweldigende impak kan hê op jou belewenis daarvan?
Ek wonder wat het Jesus opgeval Sondagoggend? Het Hy net die ou se kaal voete gesien of het Hy die musiek gehoor? Ek wil graag glo ons kerk kan ruimte skep vir anderse mense. Maar as ek verskoning moet maak vir ‘n betrokke lidmaat wat getrou diens in ‘n gemeente doen se skoene eerder as om vir hom op te staan … geen wonder ons sukkel om vir meer diverse mense tuistes te skep in gemeentes nie.
Moet ek net die wat sonder skoene opdaag, leer hoe die kerk werk? Of moet ek ook dié opvoed wat, hoog gewip, die kitaarspeler aangluur terwyl hulle uit die kant van die mond sing: “Kom alle getroues, vrolik en vol vreugde…”
