Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Hans en Lynette van Deventer van Vanderbijlpark skryf:
Ons loop sedert die Vrydag ná die buitengewone Algemene Sinode met dieselfde vraag in ons gemoed as miljoene Amerikaners: “Hoe verduidelik ons wat gebeur het aan ons kinders?”
Die bron van ons vraag is die buitengewone Algemene Sinode van ons “nuwe” kerk se besluit oor gay-lidmate.
Ons is nuwe lidmate in die NG Kerk. Hier sedert Januarie toe ’n buitengewone sinode van ons “ou” kerk besluit het dat vroue nie predikante en ouderlinge mag wees nie. Vir 15 jaar het ons in daardie kring probeer praat en werk en bid vir ’n meer inklusiewe benadering.
Helaas het ’n uitsluitende manier van Skrifverstaan ons laat besef: ons denke is nie hier welkom nie. ’n Band van amper vyf dekades is gebreek.
Gesprekke met ons tienerdogters het gewys op die 2015-besluit aangaande selfdegeslagverhoudings en die inklusiewe wyse waarop die NGK die goeie nuus aan almal uitleef. Ons was oortuig dat ons hier ’n geestelike huis sou vind waar ons fokus op die daaglikse uitleef van ons roeping. Ons is gul ontvang, besoek en ook getroos wanneer die sing van ’n bekende Psalm soms ons oë laat water en skouers laat ruk het.
Ons was opgewonde oor die uitleef van die goedheid en onvoorwaardelike aanvaarding in die gemeente waaraan ons nou verbind is. En toe die besluit.
Met die eerste naïewe lees sóék (en kry!) ons iets van die gees (Gees?) van insluiting wat ons die afgelope 10 maande ervaar het. Ons “like” die besluit op facebook, bel ’n afgevaardigde om te verneem – dit is mos ’n inklusiewe besluit, of hoe?
Net soos die Demokrate in die VSA gedurende die vorige Dinsdagnag besef het, het dit ook tot ons deurgedring: Daar is anders besluit as wat ons gehoop het. Die amptelike standpunt van die NG Kerk is een van subtiele uitsluiting. Net soos in ons vorige kerklike konteks is sommiges meer aanvaarbaar, meer gelyk en minder anders as “die ander”.
Hoe verduidelik ons dít vir ons kinders?
