Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Prof JC Steyn van Stellenbosch skryf:
Moreletapark, o Moreletapark!
Die kerkgeskiedenis is vol van wandade, geweld en bloedvergieting. En nie net die bloed van die martelare nie! Die kerk het deur die eeue ’n bloedspoor nagelaat. Ek stip net enkeles aan (Daar is natuurlik baie meer en dalk beter, voorbeelde).
- Die bekende voorbeeld is seker die van die Kruisvaarders (1095-1250) waar wreedhede onder die vaandel van die Kruis gepleeg is. Ek gril nog vir die lied: “Voorwaarts Christen-stryders …”
- Gedurende die Middeleeue het ook talle “ketters” op brandstapels gesterf deur die kerk se toedoen. Die hekseverbranding is ’n goeie voorbeeld hiervan.
- Die vervolging van die Protestante is nog ’n voorbeeld. Gelukkig het die Franse Hugenote se koms na ons land positiewe gevolge vir ons meegebring.
- Het die NG Kerk nie ook ’n bloedspoor van “geweld” nagelaat nie? Ek wil nie hierop uitbrei nie, maar bloot verwys na die onlangse (2016) liefdelose sinodale uitspraak oor die gay-kwessie. Ek gril weer ’n keer as ek dink hoe die “oop hande” van 2015 “vuiste” geword het en hoe “liefde” “oordeel” geword het.
Ons kerk is gewoond om “seisoene” aan te kondig. Is dit nie tyd om ’n nuwe seisoen te noem: “Soek vir Jesus” nie? Is dit nog moontlik om Jesus te vind in ons kerk? Ek glo so, maar dan sal ons dalk moet erken dat fundamentalisme die Christelike geloof se grootste vyand is. Noem ons dit wensdenkery, of is dit dalk iets van ’n Bybelse hoop?
