Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Aanvaarding en eenheid

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Ds Chris Smith van Westonaria skryf:

Voor die AS 2015-besluit was die versoek sterk vanaf die pro-Selfdegeslag verhoudings (SGV) groep dat hulle geloofwaardigheid en opregtheid aanvaar moet word in al die gesprekke. Dit behels die aanvaarding dat hulle erns maak met die Woord, opreg is, ens. Dit is wel gedoen en daar is geluister na die groep.

Met die AS 2016 is daar die aand voor die bespreking van SGV erns gemaak om te praat oor Skrifgesag en Skrifinterpretasie. Almal het erken dat hulle die gesag van die Bybel as Woord van God aanvaar. Eers daarna is gepraat oor SGV. Die AS 2016 het eintlik een besluit gemaak wat verskil van die vorige AS 2015. Dit is naamlik dat die Woord teen enige seks buite die huwelik is. Dit is gedoen op grond van die insigte wat daar tans is oor wat die Woord van God oor SGV sê.

Die Sinode het egter ook weereens moeite gedoen om hulle liefde en aanvaarding van alle persone te bevestig. Niemand word as persoon uitgesluit nie. Sekere optredes (dade) word egter aan die hand van die Woord nie aanvaar nie. Aanvaarding, insluiting en liefde vir almal het die grootste deel van hulle besluitneming behels.

Die vraag is nou of die persone in die pro-SGV groep vandag ook die ander se geloofwaardigheid en opregtheid gaan aanvaar – soos hulle voor die 2015-besluit van ander verwag het. Kan die pro-SGV groep ook aanvaar dat dat die “teen-SGV” groep hulle wel liefhet en as mense aanvaar sonder om hul dade goed te keur.

Die hartseer is dat daar deur die bevraagtekening van die opregte intensie en bedoeling van die AS 2016-besluite, daar juis verdeeldheid geskep word, haat en verwerping toegedig word waar dit nie hoort nie. Dit is juis die pro-SGV groep se berigte en gedigte wat tans besig is om die SGV-lidmate ontuis te maak (“hulle haat julle”) in ‘n kerk wat hulle wil ontvang. Deur baie van die negatiewe berigte word verdeeldheid geskep waar die kerk wil aanvaar. Soos die pro-SGV voor die besluit gepleit het, vra ek ook nou: Kom ons werk om die eenheid in die kerk te behou. Aanvaar mekaar se geloofwaardigheid!

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top