Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Dis tyd om te begin werk

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Petrie Mouton van Theresapark skryf:

Die hele gay-debat strek nou reeds oor ‘n klompie jare. Dit het sekerlik meer tyd in beslag geneem as enige ander saak. Besluite is geneem, besluite is verander, hordes vergaderings is gehou – selfs tot ‘n spesiale sitting van die Sinode. Mense is kwaad, ander is bly, ander gee nie om nie.

Die wat bly is, bly by (nie in) die kerk, die wat kwaad is gaan weg, party begin, getrou aan die mens se natuur, ‘n ander vrye kerk.

Almal beweer hulle het God se antwoord gekry op die vraagstuk, dit is nou die blyes en die wat kwaad is. Wie is dan reg? Ten minste sal ons eendag weet!

My vraag is nou: Is die saak nou afgehandel sodat die “kerk” tyd gaan hê om aandag te gee aan haar eintlike roeping, die “gaan haal van hulle wat Jesus nie ken nie”? Die wêreld is besig om verlore te gaan terwyl ons kerkleiers debatteer oor wie die Bybel die beste verstaan.

Waar die kerk mense moes vertroos, ophef, siekes versorg, mense help in ‘n land wat besig is om te brand, word die meeste tyd spandeer aan hierdie debat. O, ek sê nie die gays is onbelangrik nie, maar die voorbeeld wat ons lidmate en kerkleiers stel, dryf meer mense uit die kerk as wat siele vir Jesus gewen word. Dis veral jongmense wat sê ons sien nie meer kans vir hierdie “kerkmense” nie. Is dit soos Jesus se liefde lyk?

Aan al die gays: Wat jy doen, wat jy glo, is ‘n saak tussen jou en die almagtige God, soos elke ander mens. Hy alleen gaan eendag die finale oordeel gee oor elkeen van ons. Wat die kerk sê bepaal nie jou saligheid voor God nie. Die kerk en die Belydenisskrifte sê baie dinge oor sonde. Of die lidmate hulle egter daaraan steur is heeltemal ‘n ander kwessie. Dis nie my lidmaatskap van enige kerk wat my red nie. Dis my persoonlike verhouding met God die Vader, deur Sy Seun Jesus Christus wat my uit genade gered het.

Ek is nou 62, was al op 19 ‘n diaken. Ek het as kind van gelowige ouers in die NG Kerk grootgeword. Maar op dié stadium is ek erg gefrustreerd met die NG Kerk omdat die kerk vir die verkeerde redes die dagblaaie haal.

Kan ek vra dat elke kerkleier (ja, dié wat so vergaderings hou oor die gay aangeleenthede en die gays wat so veg vir hulle “regte”) vandag nog begin om uitvoering te gee aan jou oorspronklike doel as Christen soos dit staan in Matteus 28. Kom weg uit die raadsale en gaan besoek mense, gaan roep dié wat verlore is. Gaan en bring die jongmense terug kerk toe.

Nee, ek oorweeg nie om uit die kerk te bedank nie, maar ek is erg gefrustreerd met die kerke wat kla oor hulle leegloop, wat kla oor die inkomste.

Mede-Christene, hou nou op debatteer en begin werk. Gaan vervul jou roeping … As jou gemeente se mense weggaan, soek die rede daarvoor of gaan soek nuwe lidmate! Hou op mense “gelukkig” te hou en gaan haal hulle wat na Jesus soek. Hou op tyd mors.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top