Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Dr Jurie Joubert van die Strand skryf:
Klein landelike skole is ‘n realiteit wat ‘n deel van die onderwysstelsel van Suid-Afrika sal bly. Een van die grootste uitdagings vir onderrig in arm plattelandse skole is daarin geleë dat daar weggebreek sal moet word vanuit die kringloop van armoede waarin geslagte van ongeskoolde mense in armoede vasgevang word.
Vir sulke arm kinders is dit 50% meer moontlik om ‘n graad te herhaal of om uit te val en nie weer die skool by te woon nie. Hulle het ook ‘n 25% kans om geïdentifiseer te word met een of ander leerprobleem.
Navorsing toon egter dat meer geld of meer fisieke infrastruktuur ‘n verrassende klein impak op arm skole het. Hul mislukkings is eerder te wyte aan hoe die onderwysproses georden, bestuur en in die klaskamer toegepas word.
Die afgelope vyf jaar hoor ons gereeld, op landswye vlak, van klein skooltjies wat gaan sluit. Hulle word een-een geboelie en dan gedwing om te sluit en die kerk en sy nuwe fokus skitter in hul afwesigheid.
Daar is geen wetenskaplike getuienis wat bewys dat onderrig in klein arm skole swak is nie, maar hulle word deur die staat geteiken om gesluit te word. Nêrens het ek gehoor dat die kerk (NG of VGK) iets doen of selfs iets daaroor sê nie.
Die kerk moet besef dat die sluiting van die skole onder meer gaan veroorsaak dat die platteland gestroop gaan word van mense. My inligting is dat skole met minder as 150 kinders in gevaar staan om gesluit te word, nou of in die toekoms. Met ander woorde tussen 25% en 30% van ons skole gaan sluit – watter ontwikkeling praat die kerk dan van?
Die tragedie is dat die meerderheid van hierdie skole die eiendom is van veral die VGK en ook van die NG Kerk. Die meerderheid van die geboue is in ‘n swak toestand, wat dit baie maklik maak vir die staat om die skole te sluit.
Dit Iyk vir my asof die kerk sý rol ten opsigte van die betrokkenheid by die onderwys, opleiding en ondersteuning van ouers en volwassenes deur die jare laat vaar het. Dit handel ten diepste daaroor dat die kerk sy kernidentiteit moet herontdek en veral moet besin “hoe” die kerk betrokke moet raak in die publieke domein en veral vir die saak van die gemarginaliseerde en gebreekte mense.
Indien die kerk landelike ontwikkeling steun, sal sy moet wakker word en iets daadwerkliks doen. Ek sluit af met die volgende vrae:
- Waarom is die kerk so stil hieroor? Volgens die Belhar-belydenis is dit ‘n duidelike misstap teen arm mense.
- Waarom gebruik die kerk nie sy eie kundige lidmate om die probleem aan te spreek nie? Predikante alleen het nie die kundigheid om die probleem aan te spreek nie. Miskien is dit een van die redes waarom die probleem tans bestaan.
- Waarom word gemeentes nie opgeroep om te help nie?
- Gaan die kerk betrokke raak by die probleem?
